SA waterskaarste |beperkte oplossings die ware bron van kommer

  • 03 September 2021
  • 202
  • nuus



Terwyl dié aankondiging – wat tydens die WWF se jaarlikse Living Plantet-konferensie gemaak is, skokgolwe deur die land gestuur het, meen prof Anthony Turton van die Universiteit van die Vrystaat (UV) dat omgewingsdeskundiges reeds die gevaarligte sover terug as 2002 sien flikker het. Dit volg na die gewaarwording dat 98% van Suid-Afrikaanse varswaterbronne reeds toegeken is.

Turton, ʼn kenner in omgewingsbestuur, meen dit is belangrik om nuut en groter te dink oor watertekorte ten einde met innoverende en impakvolle oplossings vorendag te kom. “Ons het nie beperkte water nie; ons het beperkte verbeeldings oor hoe om dié probleem op te los,” sê Truton.

Droë krane, meer algemeen as wat verwag word

Volgens Samir Randera-Rees, WWF-programbestuurder vir waterbronne, was die Wes-Kaapse droogte en bedreiging van ʼn Dag Zero in Kaapstad sowat vier jaar gelede, nié eenmalige gebeurtenisse nie. Die feit dat Randwater vroeër die maand vlak 1-waterbeperkings vir Tshwane, Ekurhuleni en Johannesburg ingestel het, ondersteun Randera-Rees se siening.

Klimatoloë waarsku reeds ʼn geruime tyd dat ʼn Dag Zero vir Gauteng binne die volgende 20 jaar kan aanbreek weens aardverhitting. Dié situasie word vererger deur Suid-Afrika se verouderde en wanfunksionele waterinfrastruktuur. In die lig hiervan sê Randera-Rees dat die probleem van watertekorte by sy oorsprong getakel moet word, naamlik Suid-Afrika se strategiese waterbronne.

Die waarde van groen infrastruktuur

Randera-Rees benadruk die waarde van groen infrastruktuur soos vleilande, fynbos, graslande en grond in terme van watersuiwering en -regulering.

Hierdie groen infrastruktuur verkeer egter onder groot druk as gevolg van indringerplante wat die watertafels leeg suig, erosie, brande en onbeheerde vullisstorting. “Wanneer ons groen infrastruktuur verval, sal die water wat ons mensgemaakte infrastruktuur binnekom onsuiwer en inkonsekwent wees,” verduidelik Randera-Rees en voeg by dat Suid-Afrika dan selfs groter probleme sal ervaar en sukkel om skokke soos lekkasies of suurmynwater te hanteer.

Sakekamer vir water

Turton, wat ook die aanvoerder is vir ʼn nuwe sakekamer vir water, meen dit sal die land ongeveer R1 000 miljard sal kos om die watersektor te herstel. Hy stel dit dat die land tans oor 824 watersuiweringsaanlegte het, waarvan 60% nie na behore funksioneer nie.

Volgens Turton is die departement van waterwese nie in staat om op gevaarseine te reageer en strategieë en oplossings daarvoor te ontwikkel nie. Hierdie onvermoë word toegeskryf aan ʼn al groter wordende skuldlas, die afwesigheid van ʼn beleggingsgradering en ʼn gebrek aan finansieringsmoontlikhede.

“Suid-Afrika sal sy narratief oor waterskaarste moet verander. Dit is als goed en wel om vleilande en visse en voëls te hê, maar wat ons nou nodig het, is beleggings en tegnologie wat water kan herwin en suiwer en seewater ontsout,” sê Turton. Hy meen verder dat Suid-Afrika se beleid oor water die land terughou omdat dit nie op tegnologie fokus nie.