Senwes Grainlink hanteer nou sonneblom tot 12% vog, sonder droogkoste




“Dit is ‘n uitsonderlike droë jaar vir die produsent, ons besef dit terdeë, sê Graham Lottering, Senwes Bedryfsbestuurder. 
 
Weens die droogte wend swerms duiwe hulle veral op die sonneblomlande wat besig is om af te droog en kan groot oppervlaktes in die bestek van ʼn paar dae opgevreet word.
 
Sonneblom sal tot en met 12% vog hanteer word, sonder droogkoste. Daar moet gelet word dat hierdie reëling om sonneblom met ‘n hoër vog te hanteer net op beperkte hoeveelhede sonneblom per silo van toepassing is, so kontak u silobestuurder spoedig in verband hiermee. Dit is ʼn toegewing waar daar in die verlede nog net tot op 11% vog ontvang was.
 
Hierdie is ʼn resultaat van Senwes se 3-jaar kapitaalprogram wat meer as R100 miljoen beloop waar daar op die deurlugting en opspoed van graan innames gefokus word. Senwes is tans in die tweede jaar van hierdie program. 
 
Deurlugting hou ook baie verborge voordele vir die graan- en oliesadeprodusent in. Die voordele om graan vroeër te stroop sluit in: prysbenutting, beperking van fisiese vogverliese asook minder fisiese stroopverliese wat altesaam tussen R50 en R70 per ton kan beloop. Die verliese kan drasties wees sou gewasse onnodig lank op die lande gelaat word. Die Amerikaners bereken dat tot 4% fisiese verliese per maand kan voorkom indien mielies ʼn maand langer as wat nodig is op die land gelaat word. 
 
Bereken self die potensiële finansiële verlies. In die geval van sojabone en sonneblom kan die verliese katastrofiese gevolge hê weens oopspring van die peule of verliese deur voëls veroorsaak. Verskeie ander agronomiese voordele kan benut word deur gewasse so gou as moontlik te stroop.
 
Senwes Grainlink weet ons produsente kry tans swaar weens die ergste droogte in jare en daarom word alles in Senwes se vermoë gedoen om hulle hierin by te staan.
 
Die nuwe sonneblomtariewe word reeds Maandag, 29 Februarie 2016, uitgebring. Kontak u silobestuurder om die maksimale voordeel te geniet.