Senwes Grainlink stel innoverende tegnologie by Nampo bekend




Grainlink trap so reg in Nampo se kraal. “In die era waarin ons leef, is vernuwing aan die orde van die dag en daarom kyk die Oesdagkomitee jaarliks na die aanbieding van die Oesdag om te verseker dat die landbouvertoonvenster aan die voorpunt bly, veral wat tegnologie en produkte betref”, sê mnr. Johan Loxton, Bestuurder: Kommersiële Dienste van Graan SA.

Grainlink het onlangs sy tip-top tegnologiese toepassing (App) bekend gestel en sal vanjaar by Nampo gereed staan om die toepassing persoonlik vir verbruikers op te stel en hulle stap-vir-stap te verduidelik hoe die toepassing werk en watter inligting dit bied. Daar sal ook TV-skerms beskikbaar wees wat die opleidingstappe ten toon sal stel. 

Om die kersie op die koek te sit, verras Grainlink vanjaar besoekers met ‘n 3D silomodel en –video. Vir diegene wat nog altyd gewonder het hoe die proses binne ‘n silo verloop, hier is jou kans! By die Grainlink stalletjie kan jy deur ‘n 3D ervaring uitvind hoe die inname-, hantering-, en uitnameproses in ‘n silo geskied. Met behulp van 3D-brille sal jy voel soos ‘n mieliepit wat sy pad deur die silo’s vind. Daar sal ook ‘n 3D silomodel uitgestal word vir besoekers om bietjie te voel en te vat. 

Laaste, maar nie die minste nie, sal Grainlink weer vanjaar ‘n kompetisie by Nampo loods. “Besoekers moet verseker nie die Grainlink-stalletjie misloop nie. Daar sal daagliks ‘n weerstasie as prys weggegee word”, sê Marietjie Grobler, Projekbestuurder van Senwes Grainlink. Die Grainlink stalletjie sal vanjaar weer in die Hinterland saal, op dieselfde plek as die vorige jare wees.