Senwes reageer op Agbiz hulproep om KZN-noodleniging

  • 30 Julie 2021
  • 1617
  • nuus



In die lig hiervan en die oproep om hulp vanaf die agribesigheidskamer, Agbiz, het Senwes noodleniging in die vorm van ʼn skenking van 33,28 ton mieliemeel (in 10kg sakkies) aan die KwaZulu-Natalse Landbou-unie, Kwanalu, gemaak. Die skenking is op 26 Julie deur Kwanalu in ontvangs geneem en is by wyse van Senwes se AVC Relief Umbrella-inisiatief gefasiliteer.

Deur dié skenking sal verseker word dat ongeveer 75 000 mense iets voedsaams te ete sal hê.

Landbouwaardeketting gerat om ʼn verskil te maak

“As daar een ding is wat die Covid-19-pandemie, en nou ook hierdie ramptoestande ons geleer het, is dit dat die rolspelers in die Suid-Afrikaanse landbouwaardeketting nie terugstaan vir ʼn uitdaging nie en gerat is om ʼn daadwerklike verskil te maak,” sê Francois Strydom, Senwes se Groep Hoof Uitvoerende Beampte.

Hy sê voorts dat dit verblywend is om te sien hoe gemeenskappe regoor die land saamstaan om mekaar in tye van ontwrigting, soos dit dan ook die geval was tydens die gewelddadige protesaksie in KZN en Gauteng vroeër die maand, by te staan. “Al hoe meer gemeenskappe skuif hul verskille opsy en vat hande ten einde aspekte soos munisipale verval, gemeenskapsveiligheid en sosio-ekonomiese agteruitgang aan te spreek. Hierdie tendens getuig nie net tot groter samehorigheid en veerkragtigheid nie, maar het die potensiaal om daadwerklike verandering te bewerkstellig,” sê Strydom en voeg by dat hierdie gesindheid ooreenstem met die doelstellings van die Senwes Groep.

Gedagtig aan dié realiteit het Senwes die skenking ter waarde van bykans R160 000 gemaak ten einde verligting te help bring aan die plattelandse gebiede wat dit benodig.

Kwanalu het vroeër bekendgemaak dat minstens ses uit elke tien dorpe in die provinsie se landelike gebiede ʼn ernstige voedseltekort beleef weens die plundertogte wat ook landbouaktiwiteite lamgelê het. In teenstelling met die algemene opvatting dat die plundertogte net tot winkels en verpakkingstore in groter dorpe en stede beperk was, raam Kwanalu dat die plaaslike landbougemeenskap verliese van miljarde rande gely het. Produsente is ook swaar getref deur die sluiting van die N3-hoofweg aangesien hulle nie hul produkte kon vervoer nie.

Falcon, wat deel uitmaak van die Senwes Equipment-stal in dié provinsie, het tot die projek bygedra deur stoorspasie beskikbaar te stel en as kontakpunt tussen Senwes en Kwanalu op te tree. Kwanalu sal die skenking verder versprei dienooreenkomstig met die behoeftebepaling wat reeds gedoen is.

Strydom moedig alle lede van Agbiz aan om, indien moontlik, tot die noodlenigingsaksie by te dra synde georganiseerde landbou ʼn sleutelrol speel om voedselsekerheid te verseker. Navrae in hierdie verband kan direk aan dr John Purchase (john@agbiz.co.za) of Karen Grobler (karen@agbiz.co.za) gerig word.

Meer oor die AVC Relief Umbrella-inisiatief

Die inisiatief wat in Mei 2020 geloods is, is so ontwerp dat dit noodleniging aan kwesbare gemeenskappe op verskillende vlakke kan fasiliteer.

Wat hierdie inisiatief so merkwaardig maak is dat die sukses en impak daarvan voortbou op die volgehoue en onbaatsugtige samewerking van alle rolspelers binne die voedselwaardeketting, vanaf primêre produsente, agri-besighede, vervoermaatskappye, verwerkers en verspreidingsentrums. Hierdie samewerking help gevolglik om voedselsekerheid te verseker ten tye van ontwrigting en onsekerheid.

Tot op hede is daar via hierdie inisiatief 523,28 ton witmielies geskenk. Hierdie skenkings is verwerk tot mieliemeel (verpak in of 5kg of 10kg sakkies) en het Senwes in staat gestel om ongeveer 390,388 kwesbare individue by te staan.

Tot dusver is hulp tydens die volgende gebeurlikhede verleen:

  • Covid-19-pandemie,
  • brandhulp,
  • droogtehulp, en
  • vloedhulp.

“Die waarde van ʼn sambreelprojek soos dié is dat dit nie net uitkoms bied aan individue en gemeenskappe wat onder moeilike omstandighede gebuk gaan nie, maar ook omdat dit gemoedsrus aan donateurs en vennote bied in die sin dat hulle die versekering het dat hul bydraes op ʼn verantwoordbare wyse benut word,” sê Strydom. Hy voeg by dat Senwes, as ʼn gevestigde en toerekenbare agri-besigheid reeds vir 112 -jaar die belange van die landbouwaardeketting op die hart dra. “Deur ʼn helpende hand na ander uit te steek, is Senwes getrou aan sy visie, naamlik om ʼn daadwerklike verskil in mense se lewens te maak.”