Sluitingsdatum vir vuurwapenamnestie kom nader

  • 08 Januarie 2021
  • 1883
  • nuus



In ʼn persverklaring in dié verband herinner Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, vuurwapeneienaars daaraan dat die amnestietydperk op 31 Januarie 2021 eindig. Die doel van die amnestietydperk is om die publiek aan te moedig om onwettige vuurwapens in te handig en vervolging vry te spring.

Die vereniging raai vuurwapeneienaars aan om die dae van die amnestie wat oor is te benut om sodoende onwettige vuurwapens en ammunisie in te handig vir vernietiging. Camphor waarsku dat diegene wat nie gebruik maak van die amnestietydperk nie krimineel vervolg kan word en ʼn tronkstraf van tien jaar in die gesig staar.

Binne 14 dae nadat onwettige vuurwapens of ʼn vuurwapen waarvan die lisensie verval het tydens die amnestie ingehandig is, kan eienaars aansoek doen vir ʼn nuwe lisensie. Camphor verduidelik dat die polisie die vuurwapen en ammunisie aan die eienaar sal teruggee sodra die lisensie goedgekeur is.

“Die SAPD sal ballistiese toetse op alle vuurwapens doen wat ingehandig word om vas te stel of dit aan misdaad gekoppel kan word. Enigeen wat ʼn vuurwapen vir vernietiging inhandig, sal ʼn verklaring onderteken wat die vuurwapen verbeurd verklaar en die SAPD magtig om die vuurwapen te vernietig. Geen vergoeding word betaal aan eienaars wat vuurwapens inhandig nie.

Volgens die persverklaring moet alle nuwe aansoeke vir vuurwapenlisensies voldoen aan die vereistes van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000). Dit sluit onder meer in ʼn geldige bevoegdheidsertifikaat en ʼn motiveringsdokument vir die doel van die vuurwapen (bv. selfverdediging, jag of sportskiet).

Die vereniging bied ondersteuning aan sy lede sowel as nie-lede wat gebruik wil maak van die amnestietydperk. Vir meer inligting en raad kontak SA Jagters by 012 808 9300 of besoek www.sahunters.co.za.