So reageer Agbiz op begrotingsrede

  • 26 Februarie 2021
  • 1801
  • nuus



Dit is die mening van dr John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, in reaksie op die minister van finansies, Tito Mboweni, se staatsrede Woensdag. Dr Purchase meen voorts dat die begrotingstoespraak ʼn noodroep aan alle maatskaplike vennote was om aktief inklusiewe ekonomiese groei na te streef. In die lig hiervan het Agbiz homself opnuut tot die uitbouing en implementering van die landboumeesterplan-proses verbind.

Volgens dr Purchase, wat dié begrotingsrede as die mees uitdagende begroting sedert die aanbreek van demokrasie in 1994 bestempel, het minister Mboweni en sy span hul goed van hul taak gekwyt en kon hulle te midde van groot uitdagings daarin slaag om die nasionale inkomstestroom in reële terme bestendig te hou. Daar is ook heelwat aan nie-rentedraende uitgawes besnoei. “Hierdie aksies sal egter slegs vrugte dra indien die openbare sektor se loonrekening met ʼn ysterhand bestuur word, ondersteuning aan organisasies in staatsbesit verminder word en ruimte geskep word vir die daarstelling van die nodige strukturele hervormings,” sê dr Purchase.

“Met die vorige nasionale begroting was die land reeds in ʼn onbenydenswaardige posisie van endemiese lae groei, beperkte belastinginkomste en hoë vlakke van werkloosheid,” verduidelik dr Purchase en voeg by dat die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkingsmaatreëls die reeds benarde posisie verder vererger het.

Belasting

Agbiz ondersteun die aankondiging dat maatskappybelasting volgende jaar van die huidige 28% tot 27% verlaag gaan word. Die belastingverligting van R2,2 miljard aan individuele belastingbetalers sal volgens die sakekamer ook help om ekonomiese groei aan te moedig.

Die 8% verhoging in aksyns op drank en tabakprodukte sal volgens dr Purchase ʼn “beduidende” impak op dié waardekettings hê. Om die rede bepleit Agbiz die verskerping van pogings deur wetstoepassingsagentskappe en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) om ontwettige handel in hierdie produkte te beperk.

Die voorgestelde styging in die brandstofheffing is volgens Agbiz ʼn rede tot kommer.

Landbank

Die Land Bank, wat tans in erge geldknyp verkeer, is bykans die enigste staatsinstelling waaraan die nasionale tesourie ʼn geldelike inspuiting toegestaan het.

Volgens dr Purchase verwelkom Agbiz die bedrag van R7 miljard wat aan die bank toegestaan is. Van hierdie bedrag sal altesaam R5 miljard gedurende die 2021-’22 boekjaar beskikbaar gestel word, terwyl ʼn verdere R1 miljard in die volgende twee boekjare per jaar aan die bank toegestaan sal word.

Agbiz ondersteun voorts die minister se plan om terme en voorwaardes op die Landbank af te dwing om te verseker dat die instelling op ʼn koers van volhoubare en stabiele ontwikkeling geplaas word.

Ander kwessies

Die hernude fokus op die afhandeling van uitgerekte restitusie-eise word ook deur die landbousakekamer verwelkom en gevolglik steun Agbiz die beginsel van ʼn ondersteuningstoekenning.

ʼn Kwessie wat egter die wenkbroue laat lig is die werwing van 10 000 ervare voorligtingsbeamptes en volgens dr Purchase bevraagteken Agbiz die rasionaal hiervoor asook die uitvoerbaarheid van dié besluit.

Die volledige begrotingstoespraak is hier beskikbaar: http://www.treasury.gov.za/documents/national%20budget/2021/speech/speech.pdf.