Sojaboonbedryf kan baat by groter vraag vir menslike verbruik

  • 01 Oktober 2021
  • 159
  • nuus



Die sojaboon word in sommige geledere na verwys as die proteïenbron van hoop vir die toekoms vanweë die hoë proteïeninhoud en die groot verskeidenheid van gebruike van sojabone.

Volgens prof Hettie Schönfeldt van die Universiteit van Pretoria (UP) se fakulteit natuur-en landbouwetenskappe, moet daar belê word in navorsing en ontwikkeling sodat moderne tegnologie ingespan kan word om dit wat aan die verbruiker gebied word, te verbeter. Verbruikers moet op hul beurt ook bewus gemaak word van die voordele verbonde aan sojaboonprodukte.

Die ideale inname van droëbone of sojabone word volgens Schönfeldt geraam op ʼn porsie per dag, wat op die keper 10 kg per capita per jaar verteenwoordig. Omdat Suid-Afrikaners tans minder as 2 kg sojabone per jaar verbruik, hou die plaaslike bedryf baie goeie groeipotensiaal in.

Schönfeldt verduidelik dat skoolvoedingsprogramme dwarsoor die land sowat 9 miljoen kinders vyf dae ʼn week voed, en dat sojaprodukte reeds in die vorm van maalvleis saam met pap en groente in hierdie programme bedien word.

Navorsing fokus op verbruikersonkunde

Verbruikers se onkunde oor die gebruik van soja en sojaprodukte kan volgens Schönfeldt opgesom word deur navorsing wat onder verbruikers in die hoërinkomstegroepe, tussen die ouderdom van 25 en 65 gedoen is.

Slegs 27% van verbruikers het geweet dat ʼn  wye verskeidenheid produkte – wat onder meer kerse, vissmeer, sjokoladesmeer, skyfies, ontbytkosse, melkpoeier, soppoeier, wors en maalvleis ingesluit het, soja bevat het.

Op ʼn vraag oor hoe dikwels hulle soja eet, het 17% aangedui dat hulle dit nooit eet nie, 54% het aangedui dat hulle dit soms eet en 10% het gesê dat hulle dit daagliks inneem. Meer as die helfte van die verbruikers het gesê hulle sal soja eet as daar maklike en smaaklike resepte daarvoor beskikbaar was en 11% meen hulle sal nooit oortuig word om soja te eet nie.

Verskerp plaaslike verwerkingsprosesse

Professor L.J. Grobler, van die Noordwes-Universiteit se fakulteit ingenieurswese en ʼn kenner van die verwerkingsproses van sojabone, meen die persepsie rondom sojaprodukte moet verbeter word.

Volgens hom het sojaprodukte jare terug ʼn knou gekry toe die eerste pogings wat soos maalvleis gelyk het, aaklig gesmaak het. Hy noem dat baie sojaprodukte in die buiteland feitlik gereed is vir menslike gebruik deur dit bloot in water te week of geringe voorbereiding nodig het. Grobler meen voorts dat die ware potensiaal van die sojaboonmark in die verwerkingsproses opgesluit lê.

Tans word hierdie plantgebaseerde vleisvervangende produkte ingevoer en ten duurste verkoop. As die koste van die grondstowwe en die verwerking in ag geneem word, behoort hierdie produkte volgens Grobler net 60% van die prys van normale vleis te kos, en nie andersom nie.