Somber November vir SA tabakbedryf

  • 26 November 2021
  • 1258
  • nuus



In wat as die bedryf se “donkerste periode nog” beskryf word, meen Satta dat die bevindinge van ʼn onlangse navorsingstudie oor onwettige tabakhandel – soos onderneem deur die navorsingsmaatskappy Ipsos, daarop dui dat drie uit elke vier winkels in die Vrystaat (76%) en die Wes-Kaap (77%) onwettige sigarette verkoop. Onwettige sigarette word voorts in die helfte van die land se winkels aangetref.

Ipsos se bevindinge is opgevolg met die publikasie van navorsing deur Tax Justice South Africa (TJSA) wat op sy beurt bevind het dat winkeleienaars onwettige sigarette verkoop teen tot vier keer minder as die wettige haalbare prys. Hierdie was die geval in 96% van die winkels wat TJSA in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria besoek het. Om die situasie te vererger, stort vervaardigers groot bokse, wat elk 500 pakkies bevat, teen uiters lae pryse op die mark.

Op die koop toe is daar bevind dat handelaars nie juis bang is vir vervolging deur die polisie of die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) nie, selfs al is dit duidelik dat geen aksynsbelasting daarvoor betaal is nie. Teen R6 per pakkie, ‘n fraksie van wat dié belasting sou wees, is die prys amper 20% laer as verlede jaar.

Onwettige handel kos boere alles

Volgens Satta is minstens 30 van sy lede, almal swart boere in Mpumalanga en Limpopo, die afgelope paar maande hul besighede kwyt weens die afname in die wettige handel van sigarette. Dit beteken dat daar nie meer ‘n genoegsame vraag na tabak wat hulle kweek bestaan nie.

Die ironie van die saak is, volgens Satta, dat terwyl die handelaars van onwettige sigarette soos ‘n georganiseerde misdaadnetwerk funksioneer, die tabakbedryf een van die mees gereguleerde bedrywe in die Suid-Afrikaanse ekonomie is. Produksie by vervaardigingsaanlegte moet gemeet word, daar is beheermeganismes rondom advertering en baie spesifieke vereistesvir die hoeveelheid aksynsbelasting wat die wettige boere, verwerkers en vervaardigers moet betaal.

Satta sê die situasie raak nie net boere nie, maar ook werkers regdeur die tabakbedryf se waardeketting.