Stambreek by mielies na bogemiddelde neerslae

  • 12 Maart 2021
  • 1850
  • nuus



Dit volg nadat verskeie produsente in die Oos-Vrystaat en Noordwes aangedui het dat hul mielies ongeveer 500 mm van bo af afbreek.

Pieter Rademeyer, landboukundebestuurder by Pannar, gee meer inligting oor dié plantsiekte.

Meer oor stambreek

Gedurende die plant se vegetatiewe groeistadium kan stambreek in enige stadium voorkom vanaf groeistadium V5 tot V18, wanneer vyf tot 18 blare ontvou waarvan die kraag sigbaar is.

Die mees algemene stadium vir die voorkoms van stambreek is V5 tot V8 en V12 tot R1. Laasgenoemde word ongeveer twee weke voor die saadstadium bespeur. In die V5 tot V8 stadium breek die plante gewoonlik op die grondoppervlak af en sal hulle geen opbrengs lewer nie.

Wind, en veral rukwinde, is grotendeels verantwoordelik vir die afbreek van die stamme. Volgens Rademeyer sal gebreekte plante of stamme almal in een rigting lê. In enkele gevalle kan spruite uit die plant ontwikkel en koppe grootmaak.

Die risiko van stambreek verhoog wanneer ʼn plant heuphoogte is, want die plant beweeg dan in ʼn versnelde groeifase in. Gevolglik vergroot die wortelstelsel drasties en die plant se water-en voedingsopname neem dienooreenkomstig toe. Tydens koel, vogtige toestande neem die mielieplant baie water op, wat die turgordruk in die selle verhoog. Die internodes verleng baie vinnig met die selwande wat dan swakker is omdat min lignien neergelê word. Dié swakker selwande verhoog die risiko van stambreek.

Die voorkoms van winderige toestande soggens veroorsaak volgens Rademeyer meer skade as storms gedurende die laatmiddag, en hy voeg by dat plante na die dag se hitte minder turgordruk het en daarom meer elasties is.

Indien die plant bokant die kap afbreek, sal dit steeds ʼn opbrengs kan lewer. In dié geval sal die res van die plant se blare die noodsaaklike funksies oorneem en die plant sal steeds ʼn kop kan lewer. Rademeyer verduidelik dat in die lig hiervan, graanopbrengsverlies nie altyd ooreenstem met die hoeveelheid plante wat gebreek het nie.

Hierdie faktore speel ook ʼn rol

Die voorkoms van stambreek kan volgens Rademeyer ook aan die volgende faktore toegeskryf word:

  • Chemiese middels

    Indien sekere soorte chemiese middels toegedien word, kan dit die voorkoms van stambreek verhoog. Voorbeelde van sulke produkte is 2,4D en dikamba. Hierdie middels het tot gevolg dat plante vinniger abnormale seldeling ondergaan wat die plant meer onderhewig maak aan stambreek. In hierdie geval sal plante presies op die nodes afbreek.

  • Bemesting

    Hoë vlakke van stikstof kan stambreek veroorsaak, veral wanneer plante se groeitoestande hoë opbrengste moontlik maak.

  • Plantestand

    Hoe hoër die plantestand, hoe hoër is die voorkoms van stambreek. Die rede hiervoor is dat plante onderling meer meeding om voedingstowwe, water en sonlig. Dit lei daartoe dat plante hoër sal uitgroei met gevolglike dunner stamme.

  • Genetiese eienskappe

Sekere genetiese groepe kan meer vatbaar wees vir stambreek. Plante met ʼn meer regop-blaargroeiwyse kan minder stambreek toon as plante uit die tipiese tropiese agtergrond. Dit is dus altyd raadsaam om ʼn pakket van saad, saamgestel uit meer as een baster, aan te plant.

Vir meer inligting oor stambreek, kontak Rademeyer by pieter.rademeyer@pannar.co.za.