Totsiens sprinkane danksy slim tegnologie




Die platform, Kuzi, is ʼn goeie voorbeeld van die belangrike rol wat tegnologie en meer nog, kunsmatige intelligensie (KI), in landbouaktiwiteite kan speel.

Kuzi is ʼn Swahili-woord wat ‘spreeu’ beteken. Dié voëls teer op sprinkane en gedagtig hieraan poog die ontwikkelaars om deur middel van KI sprinkaanswerms in bedwang te hou. Dié tegnologie maak dit vir die gebruiker moontlik om intydse broei-indekse van sprinkane regoor die kontinent te genereer, terwyl dit ook tred hou met alle moontlike migrasieroetes.

Die toep word deur die Keniaanse agri-tegnologiemaatskappy Selina Wamucii ontwikkel en bemark.

Tegnologie met impak

Met behulp van satellietdata, grondsensordata, masjienleer en meteorologiese waarneming kan Kuzi die broei-, voorkoms- en migrasieroetes van woestyn sprinkane regoor die horing van Afrika en ander Oos-Afrika lande te voorspel.

Hierdie inligting word dan twee tot drie maande vantevore gratis via ʼn SMS-kennisgewing aan produsente en kleinboere gestuur om hulle in kennis te stel van ʼn potensiële plaag in hul omgewing.

Sonder goeie voorkomingsmaatreëls kan ʼn swerm sprinkane ʼn vernietigende effek op voedselvoorrade hê, veral in kwesbare gemeenskappe. Die vroeë opsporing- en gepaardgaande beheermaatreëls wat voorgestel word, word daarom ʼn belangrike wapen teen wêreldhonger en voedselonsekerheid.

Hierdie tegnologie is tans beskikbaar in Ethiopië, Somalië, Kenia en in Uganda, en maak voorsienning vir die Kiswahili-, Somaliese- en Amhariese streekstale. Hierdie tale word deur ongeveer 200 miljoen mense in Oos-Afrika gepraat. Planne is reeds op die tafel om die tegnologie aan ander dele van die kontinent bekend te stel.

Produsente en kleinboere in die genoemde gebiede kan gratis vir die diens aanteken vanaf enige sellulêre toestel.