Tweede produksieskatting opwaarts aangepas

  • 01 April 2022
  • 1073
  • nuus



Hierdie aanpassing weerlê die vrees van swak opbrengste weens die baie reën wat aan die begin van die seisoen voorgekom het.

Die jongste skatting toon dat die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes  nou 14,7 miljoen ton is, wat 1% meer is as die vorige skatting. Dié syfer is egter steeds 10% kleiner as verlede jaar se oes. Die produksieskatting vir sojabone is met 3,5% verhoog tot 1,9 miljoen ton en die skatting vir sonneblomsaad is 959 000 ton, wat 5% meer is as die vorige skatting.

In reaksie op die skatting meen Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, dat al is die mielie-oes heelwat laer as verlede jaar, dit steeds ʼn goeie oes is wat aansienlik meer is as die tienjaar-gemiddelde van 12,8 miljoen ton. Die skatting oortref ook die jaarlikse verbruik van 11,8 miljoen ton.

Die hersiene skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,6 miljoen hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 5,6 ton per hektaar is. Sowat 7,6 miljoen ton is witmielies en 7,1 miljoen ton is geelmielies. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede is die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes. Hierdie gebiede gaan na verwagting 82% van die 2022-oes produseer.

Die sojaboonoes sal na verwagting die tweede grootste in die geskiedenis wees, 1% kleiner as verlede jaar. Volgens Sihlobo sal die sonneblomoes waarskynlik ook die tweede grootste in die geskiedenis wees.

Ander somergewasse

Die verwagte grondbone-oes word op 74 250 ton geraam, wat 7% meer is as die vorige skatting van 69 200 ton met ‘n opbrengs van 1,7 ton per hektaar. Die produksieskatting van sorghum is 137 220 ton, wat 6% minder is as die vorige skatting en in die geval van droëbone is die produksieskatting dieselfde gehou op 59 690 ton.