Uitheemse onkruid kan gewasse ernstig knou




In mielies kan een Palmer-amarantplant per vierkante meter tot ʼn opbrengsverlies van soveel as 10% lei, terwyl drie plante per vierkante meter ʼn opbrengsverlies van 50% in sojabone kan veroorsaak.

Navorsingsprojek

Ten einde produsente te help om hierdie indringerplant te identifiseer en gevolglik die bestuur daarvan te bespoedig het die Universiteit van Pretoria, onder leiding van prof Charlie Reinhardt – projekleier by die Suid-Afrikaanse Onkruiddoderweerstandsinisiatief (SAHRI), ʼn handige inligtingsgids saamgestel.

Hierdie gids maak deel uit van ʼn SAHRI-navorsingsprojek en volgens prof Reinhardt, ʼn buitengewone professor in onkruidkunde, is dit belangrik dat produsente die indringerplant so vroeg as moontlik identifiseer en aanmeld.

“Produsente kan ons navorsingspan en uiteindelik ook die plaaslike landbousektor help om oplossings te vind vir hierdie uiters skadelike uitheemse onkruid in ons midde,” sê prof Reinhardt en voeg by dat produsente kan help deur op die uitkyk te wees vir Palmer-amarant en die voorkoms daarvan aan SAHRI te kommunikeer. Foto’s kan aan prof Reinhardt gestuur word via Whatsapp by 083 442 3427 of deur ʼn e-pos te stuur aan dr.charlie.reinhardt@gmail.com.

Meer oor Palmer-amarant

Palmer-amarant word in Amerika as die nommer een onkruid beskryf, omdat die plant weerstandigheid teen agt meganismes van onkruiddoderwerking toon. Volgens die SAHRI-navorsingspan kan die impak van dié onkruid op die plaaslike landbousektor in die afsienbare toekoms (ongeveer 2030) duidelik word.

Die identifikasie van Palmer-amarant word bemoeilik deurdat sekere kenmerke daarvan ooreenstem met die van ander amarant-soorte, waarvan daar altesaam 17 soorte in Suid-Afrika alleen aangetref word.

Een plant kan tot 600 000 sade produseer en sade kan drie jaar lank kiemkragtig in die grond oorleef. In ʼn veldproef is Palmer-amarant plantgetalle oor ʼn tydperk van ses jaar deur middel van intensiewe beheer met onkruiddoders en handskoffels, met soveel as 98 %verlaag. Hierdeur is die saadgetalle in die grond tot 18 miljoen sade per hektaar verlaag. In die kontrole, waar beheer nie toegepas is nie, het saadgetalle in die grond vanaf 170 miljoen sade per hektaar tot 1,1 biljoen sade per hektaar toegeneem.

Kitsfeite

  • Die plant is inheems tot die semi-ariede dele van Amerika, wat beteken dat dit goed sal aanpas in groot dele van die plaaslike gewasprodusiegebiede.
  • Dit is ʼn somerplant wat hoë dag- en nagtemperature, asook lang dae, verkies.
  • Die plant se lewensiklus word in een jaar voltooi.
  • Bestuiwing geskied deur sterk wind, asook water, voëls, diere en landboumasjienerie.
Laai die gids hier af: https://bit.ly/3weJDDe.