UV-deskundiges eerste in SA met ivermektien studie

  • 05 Februarie 2021
  • 228
  • nuus



Dié aankondiging deur die Universiteit volg kort nadat die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) dokters toestemming* gegee het om ivermektien onder spesiale omstandighede vir die behandeling van Covid-19 voor te skryf.

Kliniese navorsingstudie

Luidens ʼn verklaring wat deur die Universiteit vrygestel is, dui hierdie navorsing op die instelling se verbintenis tot die ontwikkeling van behandelings en behandelingstrategieë om die Covid-19-pandemie hok te slaan.

Volgens Lacea Loader, UV direkteur: bemarking en kommunikasie is die Universiteit verbind tot streng wetenskaplike en bewysgebaseerde navorsing. In die lig hiervan ondersteun Farmovs en die Universiteit die gepubliseerde menings en riglyne van Sahpra en die wetenskaplike adviesrade wat die wetenskapsgemeenskap op die been gebring het, asook die regering se standpunt oor die gebruik van ivermektien vir die behandeling van Covid-19.

Geskiedenis van ivermektien

Dr Danie Odendaal, direkteur: Veearts Netwerk, beskryf die ontwikkeling van ivermektien as een van die grootste deurbrake ooit in dieregesondheid.

Die produk, wat in die 1980’s vrygestel is, was die eerste middel wat vir inwendige sowel as uitwendige parasiete gewerk het. Dit het ook spesifiek rondewurms en enige bloedsuiende, uitwendige parasiete soos bloubosluise en skruftemyte geteiken.

Vandag is daar ongeveer 40 verskillende handelsname beskikbaar en dit is steeds die grootste kategorie in die dieregesondheidsmark. Dit is aanvanklik eers in beeste gebruik, maar is later uitgebrei om skape, varke, wild en selfs troeteldiere in te sluit. Daar is wel spesifieke honderasse waarvoor dit giftig is.

Volgens Odendaal was die fokus nog al die jare op dié middel se werking teen parasiete. In die 1980’s, byvoorbeeld, het die maatskappy wat ivermektien ontwikkel het, navorsing gedoen oor hoe die produk in Afrika aangewend kon word om menslike gesondheidsprobleme op te los. In tropiese dele van Afrika is dit op groot skaal gebruik om siektes soos rivierblindheid en olifantsiekte suksesvol te behandel. Die produk is egter in die meeste dele van die wêreld nié vir menslike gebruik geregistreer nie.

* Dokters moet ʼn formele aansoek indien om ivermektien te mag gebruik. Die ivermektien wat aan pasiënte gegee sal word, is nie die plaaslike veemiddel nie, maar ʼn middel wat oorsee beskikbaar is en vir menslike gebruik aangepas is. Pasiënte moet ook deurentyd streng gemonitor word.