Veerkragtigheid die sleutel tot Senwes se rekord finansiële resultate

  • 02 Julie 2021
  • 2597
  • nuus



ʼn Wins toeskryfbaar aan normale ekwiteitshouers van R526 miljoen is aangeteken – ʼn 73,6% verhoging vanaf R303 miljoen vir die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar.

“Wêreldwyd sal die jaar 2020/21 nie net onthou word vir die verwoestende gevolge van die Covid-19-pandemie nie, maar ook as 'n tyd van groot onstabiliteit, digitale transformasie en ʼn vinnige oorgang na 'n nuwe normaal. Op eie bodem moes die landbousektor verder 'n seisoen van uiterstes trotseer, wat gewissel het van verwoestende veldbrande, oorstromings, gewas- en veesiektes tot 'n rekord mielieoes en gunstige markvooruitsigte,” sê Francois Strydom, Groep Hoof Uitvoerende Beampte.

Hy voeg by dat die groep se stabiele finansiële prestasie oor die afgelope ses jaar getuig van Senwes se veerkragtigheid en die vermoë om aan die toekomstige behoeftes van sy diverse klantebasis te voldoen. "Deur voortdurend oor ons toekoms as 'n agri-besigheid te herbesin, is dit vir ons moontlik om nie net ons verbintenis tot relevansie, innovasie en waardeskepping gestand te doen nie, maar ook ons belanghebbendes in staat te stel om hul eie besigheidspotensiaal te heroorweeg en uiteindelik te herontwerp,” sê Strydom.

Ander hoogtepunte is 'n finale dividendverklaring van 32 sent per aandeel (2020: 30 sent) asook ʼn spesiale dividend van 26 sent per aandeel (2020: 0 sent), terwyl die netto batewaarde van die groep verhoog het na R17,6 per aandeel (2020: R15,1 per aandeel). 'n Verdienste per aandeel van 307,2 sent is gelewer, wat 72,3% hoër is as die 178,3 sent per aandeel vir die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar. 

Kontant uit bedryfsaktiwiteite gegenereer, het met 67% toegeneem vanaf R545 miljoen in 2020 na R910 miljoen en die groep se insetverskaffingsdienste het ʼn wins van R584 miljoen getoon – ʼn 294,6% verbetering op die vorige jaar se prestasie. Die marktoegangsdienste het met 12,9% gegroei en ʼn wins van R210 miljoen is aangeteken.

Vooruitsigte

“Die verwagtinge vir die 2021-oes is baie belowend en die Nasionale Oesskattingskomitee voorspel ʼn nasionale mielieoes van meer as 16 miljoen ton, terwyl internasionale kommoditeitspryse die afgelope jaar op goeie vlakke was. Die laer rentekoerse het groot besparings teweeggebring vir alle ondernemings en die vooruitsig is daarom positief vanuit 'n kontantvloei- en 'n winsgewendheidsoogpunt. Hierdie faktore sal beslis bydra tot groter plantvoornemens vir die volgende seisoen,” sê Strydom.

“Voeg hierby die hoër vlakke van besigheidsvertroue en alles dui daarop dat produsente meer gaan spandeer op insette en kapitaalgoedere vir die volgende seisoen. Die opname van krediet behoort te verlangsaam weens die surplus kontant in die mark,” sê Corné Kruger, Groep Hoof Finansiële Beampte.

EINDE
Navrae: Francois Strydom
Groep Hoof Uitvoerende Beampte
Tel: +27 18 464 7115
francois.strydom@senwes.co.za
www.senwes.co.za