Voeding van pekanneutbome

  • 09 April 2020
  • 7380
  • nuus



Die grootte en kwaliteit van neute word bepaal deur die blaar/ neutverhouding. Verder word opbrengs bepaal deur die mees beperkende voedingselement.

Die feit dat pekanneutbome se wortelstelsel ‘n groot volume grond “oorneem”, beteken nie dat voedingstowwe soos K, P, Ca en Mg nie deur bemesting aangevul moet word nie.

ENKELE BEGINSELS BETROKKE BY VOEDING

Benadering: Voedingsprogram (behoeftegebaseerd) vs ‘n bemestingsprogram (produkgedrewe).

Vasstelling van voedingsbehoeftes kan subjektief of kwantitatief wees.

Definieer die doel van ‘n voedingsprogram - identifiseer byvoorbeeld die behoeftes vir groei en gesonde blaredak, maksimum neutopbrengs, produksie van hoë kwaliteit neute en minimale omgewingsimpak.

Die vier basiese faktore om te kwantifiseer: regte tipe, regte tyd, regte plek en regte hoeveelheid.

pH: Volproduserende bome van 10 jaar en ouer - makro-elemente opgeneem deur die wortels in die grond by ‘n pH van 6-7. Mikro-elemente word meestal deur wortels opgeneem in grond by ‘n pH van 4-5. In die geval van mikro-elementtekorte kan blaarbespuitings gedoen word.

Stikstof:
• Sukses met N word bepaal deur klimaat, grond, spasiëring, snoei, oplei, boomouderdom, kultivar en genetiese variasie van elke boom. Faktore soos besproeiing, Zn en onkruidbestuur het ‘n direkte invloed op die absorpsie en verbruik van N. Verhoging van N sal oneffektief wees indien die boom te min of te veel water kry, of indien onkruid die beskikbare water en voedingstowwe opneem.

• N-bestuur is die balans tussen toediening en behoefte in die kritieke tye van die fisiologie nl. 1) bot en blaarontwikkeling en 2) vulling van die neute. Stadige of beperkte N-beweging of voeding in eersgenoemde kan veroorsaak dat N reserwes gemobiliseer word. Die N-opname in die tweede periode is belangrik vir die reserwes van die volgende seisoen. Grootte van die oes en die alternatiewe dragsiklus van die bome behoort ook in ag geneem te word om die wanneer, hoeveelheid en nodigheid van N te bepaal.

Pekanneute benodig baie Zn. Die feit dat Zn stadig vervoer word en akkumuleer in die boom, is pH-verwant. Zn-behoefte van produserende bome is 1980 g Zn/ha/jaar.

Fosfaat is betrokke by die energie van fisiologiese reaksie en vegetatiewe groei. Dit beweeg in groot hoeveelhede na ontwikkelende neute en hou verband met “late season scorch” en koue skade.

Kalium is betrokke by ensiemreaksies, regulering van waterbeweging, huidmondjieopening en verbruik van stikstof. K-tekorte ontstaan dikwels na swaar N-toediening. Kultivarverskille ten opsigte van die N:K-verhouding kom voor.

Reaksie op P- en K-voeding is dikwels onvoorspelbaar.

Interaksie tussen voedingselemente kom voor. By hoë P-vlakke, kan Zn en Cu minder beskikbaar word, al is die vlakke daarvan optimaal. Die absorpsie van K word verminder deur lae pH, hoë vlakke van Ca, Mg, Na en NH4.

Praktyke vir grondgesondheid:
• Die gebruik van dekgewasse is een manier om die opname van voedingstowwe te verbeter, sowel as grondfisiese eienskappe soos waterhouvermoë.

• Die populêre aanbeveling om dieremis te gebruik om grondgesondheid te verbeter, is tipies van ‘n subjektiewe benadering. Sonder ‘n verteenwoordigende ontleding en aanbeveling, mag dit meer skade as goed doen.

GROND- EN BLAARONTLEDINGS

Kwantitatiewe benadering om ‘n probleem of potensiële probleme te identifiseer.

Grondontledings is van belang om pH en die vlakke van voedingselemente in die grond te monitor.

Blaarontledings is die mees akkurate maatstaf vir algehele plantvoedingsbehoeftes.

Wenke by blaarmonsterneming: dieselfde maand, dieselfde boom, hou kultivars apart, monster van neutdraende lote, monster van blare wat aan sonlig blootgestel is maar sonder sonbrandskade.

Optimale tyd vir blaarontleding is die eerste week in Desember, eerste week in Februarie en middel-Maart.

Die langtermyndata is uiters waardevol.

Blaarontledings gee vir jou vroegtydig 'n aanduiding van wat die boom benodig. Dit skep die geleentheid vir proaktiewe optrede. P-status in blaarontleding gee 'n aanduiding of dit ‘n aan- of af-jaar gaan wees.

Vir meer inligting asook bystand met ontleding en aanbevelings, kontak gerus:
Petrus van Staden - 076 219 3778
André van Niekerk - 082 561 7128
Edward Dwyer - 071 549 4486

Verwysings: Dr. E.T. Stafne, Dr. R.A. Melanson and Dr. J. Wilson. Publication 3055 (POD-03- 17) Updated October 2018. B. Carroll; M.W. Smith. Fertilizing Pecan and Fruit Trees Oklahoma Cooperative Extension Service. HLA-6232 R. Byford. 2005: Pecan Orchard Fertilization. Guide H-602. New Mexico State University Pecan Production Pamphlet for Arkansas. Texas Pecan Handbook, March 2012 edition Amanda McWhirt, 2017: Pecan Production: Soils, Fertility and Plant Tissue Nutrient Testing. University of Arkansas, Research and development. Monte Nesbitt, Pecan Tree Nutrition & Fertilization.