Water | Agri SA bied terugblik en verwagtinge

  • 17 Desember 2021
  • 1287
  • nuus



Vloede en droogtes

In Februarie het die tropiese sikloon Eloise swaar reënval meegebring, wat gelei het tot vloede en lewensverlies en ernstige skade is in die noordelike dele van die land, Mpumalanga en KwaZulu-Natal ervaar.

Die bestuur van Suid-Afrika se damme het veral onder die vergrootglas gekom. Die kwesbaarheid van die landbousektor in sekere streke was veral duidelik, soos sekere dele langs die Oranjerivier waar vloedwalle na verskeie jare nog steeds nie voltooi en/of herstel is nie.

Terwyl die Nasionale Departement van Landbou nog kopkrap oor waar die finansies vir sekere konstruksie werk weggeraak het (en meer geld nou gevind moet word om die werk af te handel), leef boere met die wete dat vloedskade ʼn wesenlike bedreiging vir hulle in die huidige reënseisoen inhou.

Ten spyte van goeie reënval oor groot dele van die land, ervaar sekere dele van die land steeds ernstige droogtes en deurdringende opvolg reën in die areas is nodig. Boere wat reeds vir lank gebuk gaan onder die langdurige droogtes het nie net goeie reëns nodig om die droogte te breek nie, maar het ook tyd nodig om kuddes op te bou, infrastruktuur te herstel en skuld te delg wat as gevolg van die droogte opgehoop het.

Kabinetskommeling

In Augustus vanjaar is Minister Lindiwe Sisulu vervang deur Minister Senzo Mchunu as die kabinetslid verantwoordelik vir water en sanitasie. Die Departement is ook tans besig met die aanstelling van ʼn permanente DirekteurGeneraal (DG).

Die belangrikheid van die ministeriële en DG portefeuljes (wat betreklik lae aansien in die verlede gehad het) en die behoefte aan ervaring, kontinuïteit en kundigheid daarvoor, word al hoe meer duidelik vir die watersektor. Beide die vorige en nuwe ministers is gesoute politici en belangrike figure binne die ANC.

Politiese skuiwe is egter geweldig ontwrigtend wat betref die administrasie en werksaamhede van enige groot regeringsdepartement en is beslis gedurende die afgelope jaar beleef. Na wat verneem word, het die omskakeling in politieke leierskap in die Departement nie glad verloop nie.

Dit moet gesê word dat Minister Mchunu sedert sy aanstelling werklik moeite gedoen om homself te vergewis van die uitdagings in elke provinsie van die land. Hy het ook veral uitgereik na die landbousektor om hom te vergewis van die uitdagings wat boere ervaar

Bekende probleme

Dié uitdagings is daar beslis. Dit sluit onder ander in: (i) infrastruktuur instandhouding en uitbreiding; (ii) besoedeling; (iii) lisensiëringsoponthoude (iv) kwessies rondom agterstallige betalings en skuld; (v) konflikte met plaaslike regering oor dienslewering, riool-besoedeling en wanbestuur; (vi) politieke druk oor die hertoedeling van water gebruiksregte; en (vii) die vul van kritiese poste met kundige personeel.

Waterlisensies

Die landbousektor ervaar steeds lang verwerkingstye wat betref waterlisensie aansoeke regoor die land. Die kwessie is al verskeie kere herhaal in interaksies met die regering.

Die 90-dae periode wat vroeër voorgehou is blyk slegs van toepassing te wees waar alle inligting wat die Departement kan aanvra ingedien is en alle moontlike terreinbesoeke, konsultasies, studies ensovoorts eers afgehandel is. In praktyk kan waterlisensie aansoeke dus steeds baie lank neem, wat teleurstellend is.

Wat egter byvoeg moet word, is dat die nuwe minister die kwessie as baie ernstig beskou. Ook vanuit die presidensie is dit een van die prioriteitsaksies onder die sogenaamde Operasie Vulindlela.

Kwessies om voor uit te kyk in 2022

Agri SA verwag dat ʼn aantal kritiese kwessies in 2022 na vore sal kom. Dit sluit onder ander in:

• Onderhandelinge oor ‘n watertransformasiehandves waaroor daar reeds met die Departement gesprek gevoer is. Dit behels ʼn aantal kwessies, onder andere die omskakeling van besproeiingsrade na watergebruikersverenigings, maar ook sosiale transformasie en meer verteenwoordigende houerskap van watergebruiksregte.

• Die wysiging van ʼn rouwater-prysstrategie. Daar word tans ondersoek ingestel na die verwydering van voorgeskrewe maksimum prysverhogings op sekere komponente van rouwatertariewe. Die landbousektor is baie sensitief vir skokke in die koste van landbou-insette wat tans geweldig toeneem, byvoorbeeld in die geval van brandstof, elektrisiteit en kunsmis.

• Die Departement van Water en Sanitasie het teen die Appélhofbeslissing omtrent die oordraagbaarheid van watergebruiksregte ingevolge artikel 25 van die Nasionale Waterwet geappélleer. Dit beteken dat aansoeke om oordragte nie oorweeg sal word tot tyd en wyl die Grondwetlike Hof oor hierdie saak beslis het nie. Die uitkoms van die saak is vir die besproeiingslandbousektor van baie groot belang.

• Die dáárstelling van ‘n infrastruktuurbestuursagentskap wat onder andere die Trans-Caledon Tonnel Outoriteit sal vervang. Beplanning rondom die befondsing van die voorgestelde agentskap sal veral goed bekyk moet word.

• Die stigting van die uitstaande wateropvangsgebiedbestuursagentskappe (CMAs) en hoe die CMAs saamgestel en beman gaan word. Na wat verneem word bly die daarstelling van die CMAs ‘n ernstige twispunt tussen die regering en vakbonde; en

• Stappe om ʼn sogenaamde onafhanklike reguleerder vir die watersektor te skep gaan voort. Die motivering hiervoor is blykbaar dat die regering nie deelnemer en skeidsregter in waterbestuur kan wees nie en ‘n soortegelyke model as dit vir deur NERSA vir die energiesektor bestaan word voorgestel. Dit is egter bedenklik of die NERSA/ESKOM/Departement van Energiesake verhouding as rolmodel vir die watersektor voorgehou behoort te word.

Water bly vir die landbousektor een van die grootste uitdagings. Agri SA sal wetgewing en beleidsverwikkelinge op dié terrein weereens in die komende jaar as een van ons sleutelprioriteite hanteer.