Watervoogdyskap almal in landbou se plig

  • 13 November 2020
  • 114
  • nuus



Dié onus van verantwoordelikheid word versterk deur die nagevolge van die voortslepende droogte wat steeds in groot dele van die land heers, en die wetlike riglyne soos deur die Nasionale Water- en Sanitasie-meesterplan bepaal wat in 2021 in werking sal tree. Tydens ʼn onlangse webinaar oor die toekoms van water vir die Suid-Afrikaanse landbousektor, het verskeie kundiges hul mening oor die konsep van watervoogdyskap binne die landbousektor gelewer.

Kundiges deel hul menings

Shelly Fuller, ʼn programbestuurder by die Worldwide Fund for Nature SA, meen dat die landbousektor, as die grootste verbruiker van water in die land, proaktief moet optree om water te bespaar ten einde volhoubarheid te verseker. “Produsente en ander grondeienaars moet water op dieselfde manier bestuur was wat hulle grond bestuur, met die wete dat dit nie net ʼn impak op hul eie landbouaktiwiteite het nie, maar ook op die landbouwaardeketting as ʼn geheel,” sê Fuller.

Volgens James Brand, van ENSafrica, rig die Departement van Water en Sanitasie (DWS) ʼn oproep aan produsente om voor 10 Maart 2021 watergebruiksmeters te installeer as deel van ʼn groter gekoördineerde bewaring- en hulpbronbestuursprogram. Die DWS sal data vanaf dié meters gebruik om landboubedrywighede meer effektief te monitor.

Brand moedig produsente aan om, ter wille van meer doeltreffende waterbestuur, dié meters te installeer. Hy voeg by dat dit nie net ʼn wetlike oorweging moet wees nie, maar eerder beskou moet word as voogdyskap in aksie. “As dit kom by water, is die toekomstige werklikheid skrikwekkend, en het ons elkeen ʼn baie belangrike bewaringsrol om te speel.”