Weerdiens waarsku: maak reg vir bibberweer regoor die land

  • 13 Augustus 2021
  • 1500
  • nuus



Kusgebiede

Die eerste intense koue front het reeds sy opwagting in die Wes-Kaap gemaak, vanwaar dit na die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal sal versprei.

Volgens die SAWD word baie koue, reënerige omstandighede en selfs sneeu op die oostelike hooggeleë gebiede van die Wes-Kaap verwag. Hierdie weerstoestande sal na die hooggeleë gebiede van die Oos-Kaap versprei en tot Vrydag duur. Dit kan paaie en bergpasse onbegaanbaar maak en motoriste word gemaan om die situasie fyn dop te hou en waar moontlik hul reisplanne aan te pas. Sneeu kan ook op die Drakensberg in KwaZulu-Natal voorkom.

Na verwagting sal 15 mm tot 35 mm reën oor die suidelike gedeeltes van die Wes-Kaap en die suidwestelike gedeeltes van die Oos-Kaap voorkom. Verder word neerslae van 40 mm tot 50 mm langs die kus-en bergagtige gebiede van die oostelike deel van die Tuinroete, die Suidkus en die aangrensende binneland van die Oos-Kaap verwag.

Die SAWD waarsku dat oorstromings plek-plek kan voorkom.

Binneland

ʼn Tweede laagdrukstelsel sal teen Donderdagmiddag oor die westelike binneland ontwikkel, wat sal veroorsaak dat winderige omstandighede oor die suidelike gedeeltes van die land sal voortduur. Hierdie stelsel sal ook aanleiding gee tot neerslae oor die binneland, wat ongewoon is vir hierdie tyd van die jaar.

Vanweë dié laagdrukstelsel sal reënbuie en donderstorms ontwikkel wat die oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, die Vrystaat asook die noordelike en oostelike gedeeltes van die Oos-Kaap sal raak.

Reënval van 30 mm tot 44 mm word oor die verre oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, die suidwestelike gedeeltes van die Vrystaat en die verre noordelike binneland van die Oos-Kaap, waar baie koue omstandighede sal voortduur, verwag.

Die laagdrukstelsel sal na alle waarskynlikheid tot en met Sondag ʼn invloed op weerpatrone hê.

Waarskuwings

  •  Die SAWD waarsku dat van die donderstorms sterk kan wees en groot hoeveelhede klein haelkorrels tot gevolg kan hê.
  • Sneeuval sal waarskynlik voorkom oor die noordelike hooggeleë gedeeltes van die Oos-Kaap, die Drakensberge en die verre oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap.
  • Veeboere moet verseker dat hulle vee vroegtydig na veilige skuiling geskuig word om vrektes te voorkom.