Wees waaksaam teen wegholveldbrande die winter

  • 18 Junie 2021
  • 1296
  • nuus



Die goeie neerslae wat deur die somer oor groot gebiede van die land geval het, het gras en plante welig laat groei, wat nou tonne droëmateriaal op die grondoppervlakte gelaat. In die lig hiervan maan georganiseerde landbou produsente en organisasies gemoeid met brandbestryding en -opleiding om op ʼn gereedheidsgrondslag te wees.

Volgens die organisasie, Working on Fire (WOF), beskik Suid-Afrika oor twee vuur-seisoene: die droë somermaande in die Wes-Kaap en die droë wintermaande in die res van die land. Dié organisasie is reeds die afgelope 17 jaar daartoe verbind om brande landwyd te bestry, brandbestryders op te lei en produsente met die bestuur van brandrisiko’s te help.

Impak van Covid-19

Volgens Trevor Abrahams, besturende direkteur van WOF, het die organisasie net voor die inperkingstydperk ʼn strategiese plan ingestel wat die invloed van die pandemie op die organisasie se werksaamhede beperk het.

Daar bestaan egter kommer dat die pandemie die brandbestrydingsvermoë van baie produsente en organisasies benadeel het omdat opleiding nie kon plaasvind nie en produsente, weens finansiële druk, nie brandbestrydingstoerusting kon vervang of aanskaf nie.

Noodsaaklike voorbereiding

Nicoléne Neveling, besturende direkteur van Nevaqu Fire and Rescue, meen opleiding en waaksaamheid word vereis om produsente se eiendom teen veldbrande te beskerm.

Sy verduidelik dat die Nasionale Wet op Veld-en Bosbrande (Wet 101 van 1998) duidelike riglyne bied waaraan voldoen moet word.

Die volgende maatreëls is belangrik:

  • Almal van plaaswerkers tot toesighouers moet vroegtydig opgelei word sodat hulle presies weet wat om te doen en hoe om die toerusting te gebruik in die geval van ʼn brand.
  • Toerusting moet in stand gehou word en personeel moet goed toegerus wees met beskermende klere.
  • ʼn Deurdagte brandbestuursplan met ʼn beheerstruktuur is noodsaaklik sodat almal weet wat van hulle verwag word.
  • Brandbane moet ten alle tye skoon gehou word.
  • Op plase waar daar vee is, moet plekke voortydig geïdentifiseer word waarheen vee gebring kan word om hulle teen die vuur te beskerm.
  • Produsente word aangeraai om by ʼn brandbeskermingsvereniging aan te sluit en hul versekering op datum te hou.
  • Waak teen die opbou van brandbare materiaal en indringerplante.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, bied die volgende riglyne:

  • Vure moenie buite gemaak word tydens hoërisiko-tye wanneer die wind waai en dit baie droog is nie.
  • Brandspanne moet ten alle tye gereed wees en noodplanne moet goeddeurdag wees.
  • Wanneer voorbrande gedoen word, moet grondeienaars seker maak dat dit veilig is.