Wernich aangewys as Noordwes se Jongboer van die Jaar




Met dié woorde het Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes die toon aangegee vir die jaarlikse Agri Noordwes en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar geleentheid. Wernich Lemmer (34) van Agri Hartbeesfontein is tydens die geleentheid, wat deur Senwes aangebied is, as die wenner aangewys. Die naaswenners is Andries Coomans (Agri Excelsior) en Christo Greyling (Agri Sannieshof).

As die wenner sal Lemmer die provinsie later vanjaar in Agri SA en Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie verteenwoordig. Agri Noordwes het op twee vorige geleenthede (2014 en 2018) met die nasionale Jongboer van die Jaar gespog.

In sy gelukwensing aan die wenners het Francois Strydom, Senwes Groep Hoof Uitvoerende Beampte, gesê dat die Suid-Afrikaanse landbou ʼn baie geseënde tydvak geniet met onder meer goeie reën neerslae, oeste wat belowend lyk en positiewe markpryse. Dit is binne hierdie milieu dat jong produsente ʼn sleutelrol speel. “Plase en boerderye ontwikkel nie oornag nie, dit gebeur oor geslagte heen en jong produsente bevind hulself aan die voorgrond van ontwikkeling en vernuwing. Die toekoms van kommersiële landbou rus in hierdie en opkomende generasies se hande,” sê Strydom.

Meer oor die wenner

In die geval van Lemmer is dit landbou se wins en die ingenieurspraktyk se verlies.

As ʼn gekwalifiseerde en professionele meganiese ingenieur (hy het sy B. Ing Meganiese Ingenieurswese-graad aan die Noordwes Universiteit verwerf), het Lemmer as sisteemingenieur by die Matimba-kragstasie in Lephalale gewerk. Hy het dié beroepsveld in 2018 vaarwel geroep om voltyds in die familieboerdery betrokke te wees, en boer op die plaas Lemmersville.

Lemmer se boerderyvertakkings bestaan uit 80% mielieproduksie en 20% beesproduksie en dit is sy visie om die boerdery verder generies uit te brei en om ook ʼn derde kontantvloei-vertakking te begin. Laasgenoemde sal ingeheel uiteindelik ʼn suksesvolle maatskappy vorm.

Op die vraag oor hoe hy die rol van jong produsente in die landbou sien, antwoord Lemmer dat jong produsente deur vernuwende praktyke en die gebruik van tegnologie nie net ʼn deurslaggewende rol in terme van voedselsekerheid speel nie, maar ook die grense verskuif in terme van internasionale kompeterendheid. In sy bedankingstoespraak het hy sy dank teenoor sy familie en gesin uitgespreek vir hul ondersteuning en vertroue. Hy is van mening dat produsente in goeie jare, soos wat tans die geval is, ʼn Josefsbeleid moet volg en reeds voorsienning maak vir uitdagende tye.

“Die belangrikste is egter om as rentmeester nederig te bly en in jou geloof geanker te bly. As produsent is jou geloof jou belangrikste medewerker,” sê Lemmer.