2020 Nampo Oesdag uitgestel




Die COVID-19-uitbraak is 'n ongekende voorval, en die wêreldwye pandemie het organisasies in 'n kort tydperk op talle maniere beïnvloed. Ons leef te midde van ‘n onbekende jaar, en dinge rondom ons verander baie vinnig.

Na die streng maatreëls wat deur die Suid-Afrikaanse Presidensie ingestel is, wat onder meer byeenkomste van meer as 100 mense verbied, het Graan SA die ontwikkelinge van COVID-19 deurlopend gemonitor en onder leiding en aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie, die Presidensie van Suid-Afrika en die Departement van Gesondheid, die moeilike besluit geneem om die 2020 NAMPO Oesdag wat van 12-15 Mei 2020 op NAMPO Park, net buite Bothaville sou plaasvind, uit te stel.

Die 2020 NAMPO Oesdag word na 11-14 Augustus 2020 uitgestel, gegewe dat die regering se beleid en riglyne die uitgestelde datum toelaat. Graan SA sal die datum teen die einde van Junie 2020 evalueer en hersien indien dit deur aangepaste regeringsregulasies benodig word.

Graan SA is daartoe verbind om toepaslike aksieplanne met betrekking tot die ontwikkeling van COVID-19 te implementeer. “Die gesondheid en veiligheid van besoekers, uitstallers, personeel, borge en die hele landbougemeenskap tydens die NAMPO Oesdag is uiters belangrik, en 'n gebeurtenis van hierdie omvang hou 'n te groot risiko in om voort te gaan tydens die oorspronklik vasgestelde datums. Gelei deur hierdie prioriteite en beste praktyke, was die besluit om die geleentheid uit te stel 'n noodsaaklike besluit,” sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.

Die NAMPO Oesdag het in 2019 81 345 besoekers oor vier dae ontvang, met 775 uitstallers en 'n rekord van 376 vliegtuie en 63 helikopters het op NAMPO Park neergedaal. Die ekonomiese belangrikheid van die NAMPO Oesdag is absoluut noodsaaklik vir die korporatiewe, medium en kleiner ondernemings van regoor Suid-Afrika wat aan die skou deelneem. Boonop het besoekers en uitstallers aan die 2019 NAMPO Oesdag 'n gemiddeld van R28 miljoen tot die plaaslike ekonomie bygedra, veral in die Vrystaat en Noordwes-dorpe van Bothaville, Klerksdorp, Orkney, Potchefstroom en Stilfontein, met baie kleinsake-eienaars wat afhanklik is van die inkomste-inspuiting wat moontlik gemaak word deur hierdie landbou-platform.

“Terwyl ons voorsorg tref en dinge op 'n ander manier doen, is ons doel om steeds 'n gediversifiseerde landbouhandelskou aan te bied waarby ons getroue en jarelange vennote, die plaaslike gemeenskappe en die breër landbousektor in sy geheel, sal baat. Terwyl ons aanpas by die impak wat COVID-19 meebring, sal Graan SA toegewyd bly om risiko-ingeligte besluitneming toe te pas en alle belanghebbendes op hoogte te hou,” sê Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en -bemarking.

Graan SA sal voortgaan om aan te pas en hierdie situasie saam as 'n span en meer belangrik as 'n gemeenskap te navigeer. Ons besef dat dit vir almal 'n uitdagende tyd is, en ons toewyding tot die veiligheid van die landbousektor bly uiters belangrik. Ons moedig almal aan om vriendelik en bedagsaam te wees, en selfs in die teenwoordigheid van sosiale distansie, moedig ons almal aan om vir mekaar daar te wees. Laat ons help om die kurwe af te plat en diegene wat dit die nodigste het, te ondersteun.

Einde

Uitgereik deur:
Graan SA Kommunikasie

Verdere navrae:
Jannie de Villiers, Uitvoerende Hoofbestuurder, Graan SA
086 004 7246 | jannie@grainsa.co.za | www.grainsa.co.za