Agritoerisme kan inkomste aanvul

  • 13 November 2020
  • 2611
  • nuus



Dit is die mening van prof Peet van der Merwe en Christelle van Zyl, navorsers verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Hulle verduidelik dat hoewel agritoerisme ʼn relatiewe nuwe konsep vir Suid-Afrikaners is, dit groot potensiaal vir produsente inhou.

Wat is agritoerisme?

Agritoerisme word op ʼn plaas aangebied, en het baie raakvlakke met verskeie ander toerismesektore soos ekotoerisme, landelike toerisme, wildlewe- en jagtoerisme, avontuurtoerisme, geotoerisme, kulturele en erfenistoerisme, asook wyntoerisme.

Die meeste van hierdie bedrywe het ’n natuurelement en word op ’n volhoubare wyse benader. Van die grootste voordele van agritoerisme sluit ’n bykomende inkomste vir die produsent, meer werksgeleenthede vir die plaaslike gemeenskap, ekonomiese voordele vir die gebied, bewaring van natuurlike en kulturele elemente, asook die diversifisering van boerdery-aktiwiteite, in.

In ʼn neutedop, kan agritoerisme gedefinieer word as enige aktiwiteit wat ʼn toeris toelaat om ʼn werkende plaas te besoek vir opvoeding, genot of om aktief by die plaas se daaglikse bedrywighede betrokke te wees.

Omvang van agritoerisme in SA

Die navorsingsduo, wat aan die TREES (Tourism Research in Economic Environs and Society) navorsingseenheid behoort, meen dat die gewildste agritoerisme-produkte die volgende aktiwiteite insluit: plaasverblyf, jag, stap- of natuurroetes, wildlewebesigtiging en -fotografie, fietsry, plaastoere, restaurante, bergklim, wateraktiwiteite en 4x4-roetes.

In totaal is daar 47 agritoerisme-produkte geïdentifiseer.

Volgens die navorsing, lyk Suid-Afrika se agritoerisme-profiel as volg:

  • Wes-Kaap

    Respondente uit dié provinsie bied 44 van die 47 geïdentifiseerde agritoerisme-produkte aan. Die gewildste produkte sluit in plaasverblyf (76%), plaastoere (19%), stap- of natuurroetes (43%), fietsry (43%), voëlkyk (36%), troues en spesiale geleenthede (33%), wildlewebesigtiging en -fotografie (29%), visvang (26%), restaurante (26%), wateraktiwiteite (24%), jag (24%) en piekniek (24%).

  • Noord-Kaap

    Hier is 24 verskillende agritoerisme-produkte geïdentifiseer en die gewildste is jag (67%), plaasverblyf (53%), wildlewebesigtiging en -fotografie (47%), diereritte (33%), kampering (33%), plaastoere (33%) en 4×4-roetes (27%).

  • Noordwes

    In dié provinsie is die volgende agritoerisme-produkte geïdentifiseer: plaasverblyf (79%), jag (64%), diereritte (29%) en wildlewebesigtiging en -fotografie (21%).

  • Vrystaat

    Hier is 25 verskillende agritoerisme-produkte geïdentifiseer, waarvan die meeste op buitelug-ontspanning fokus, terwyl min vermaak en direkte verkope op plase aangebied word. Die volgende agritoerisme-produkte is baie gewild: plaasverblyf (65%), jag (55%), visvang (30%), fietsry (25%), stap- of natuurroetes (20%), wateraktiwiteite (20%), piekniek (20%), wildlewebesigtiging en -fotografie (15%) en voëlkyk (15%).

  • Mpumalanga

    Hier is slegs 22 verskillende agritoerisme-produkte geïdentifiseer, wat die volgende insluit: plaasverblyf (55%), visvang (45%), jag (45%), wildlewebesigtiging en -fotografie (36%), plaastoere (36%), stap- of natuurroetes (27%), en selfpluk- of oes-aktiwiteite (27%).

  • Limpopo

    In dié provinsie is 29 verskillende soorte agritoerisme-produkte geïdentifiseer, waarvan jag (79%), plaasverblyf (79%), sosiale geleenthede (43%), stap- of natuurroetes (36%), wildlewebesigtiging en -fotografie (36%), plaastoere (36%), en troues en spesiale geleenthede (36%) die gewildste is.

  • Gauteng

    Interessant genoeg bied baie min (7%) van die respondente wat plase in Gauteng besit, enige vorm van agritoerisme op hul plase. ’n Mens sou dink dat daar meer plase met toerisme-produkte is, aangesien hulle so naby aan stede soos Johannesburg en Pretoria geleë is. Daar was slegs twee respondente en hulle het die volgende aangedui: verfbal (paintball), 4×4-roetes, kleilatskiet, voëlkyk, jag, en stap- of natuurroetes.

  • KwaZulu-Natal

    Hier is 36 verskillende agritoerisme-produkte geïdentifiseer, waaronder stap- of natuurroetes (83%), plaasverblyf (83%), wildlewebesigtiging en -fotografie (67%), visvang (67%), slagveldroetes (67%), jag (50%), historiese gedenktekens (50%), troues en spesiale geleenthede (50%), bergklim (33%), diereritte (33%), wateraktiwiteite (33%), fietsry (33%), voëlkyk (33%), piekniek (33%), 4×4-roetes (33%), museums (33%), plaastoere (33%) en restaurante (33%) ingesluit word.

  • Oos-Kaap
Respondente uit dié provinsie bied 34 verskillende agritoerisme-produkte, waarvan die belangrikste plaasverblyf (89%), stap- of natuurroetes (67%), wildlewebesigtiging en -fotografie (56%), jag (56%), piekniek (44%), plaastoere (44%), bergklim (33%), fietsry (33%), voëlkyk (33%), hansdieretuin (33%), sosiale geleenthede (33%) en pad- of plaasstalletjies (33%) is.