Bedryf versigtig optimisties oor groot sharonvrugte-oes

  • 08 April 2021
  • 1998
  • nuus



Volgens Hein Smal, van Sharon Fruit South Africa, word vanjaar se oes op bykans 4 000 ton geskat, en die bedryf hou asem op vir die potensiële impak van die koronaviruspandemie op die verpakking en versending van die oes. “Die gevaar van ʼn moontlike derde golf Covid-19-infeksies kan ʼn groot impak op die oes hê,” sê Smal en voeg by dat vanjaar se oes baie groter is as dié van 2020.

Vanjaar se oestydperk het op 5 April begin en sal teen middel Mei tot ʼn einde loop. Gevolglik sal dié vrug vanaf Mei tot Augustus beskikbaar wees in die groothandel, kleinhandel en informele sektor.

Meer oor sharonvrugte

Die sharonvrug is deel van die Persimmon-familie en kom oorspronklik van Sjina. Laasgenoemde is ook die grootste produsent van dié vrug. 

Ander lande waarin die vrugte gekweek word, sluit in Suid-Korea, Japan, Spanje, Israel, die VSA, Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië, Egipte en Chili. 

In Suid-Afrika is die Wes-Kaap se Mediterreense klimaat uiters geskik vir die verbouing van persimmons en die eerste kommersiële boorde is in die laat 1990’s hier aangeplant. Tans word sowat ses verskillende kultivars hier aangeplant.

Kenners beskryf die smaak as ʼn kombinasie van appelkoos, pruim, pampoen en mango, terwyl daar ook duidelike ondertone van papaja, perske en heuning bespeur kan word.

Het jy geweet?
  • Die sharonvrug staan ook bekend as ʼn boomtamatie of ʼn Chinese appel.
  • Jy kan die vrug vars eet, kook of inlê.
  • Suid-Afrika is die enigste land in die Suidelike Halfrond waar sharonvrugte verbou word, vanweë die besonderse klimaat van dele van die Wes-Kaap.
  • Die vrug het geen pitte nie.
  • Die vrug is soet en kan ferm (soos ʼn appel) of sag (soos ʼn nektarien) geëet word.
  • Sharonvrugte is ryk aan anti-oksidante en ʼn uitstekende bron van vitamiene en vesel.
  • Dit is Japan se nasionale vrug.
Vir meer inligting besoek www.sharon-fruit.com of stuur ʼn e-pos na hein@sharon-fruit.com.