Die invloed van SEETEMPERATURE op plaaslike pryse




Die plaaslike mark is gewoonlik aan die begin van ’n seisoen sensitief vir reënval – beide vir aanplantings asook vir die groei van geplante gewasse. Enige tydperke van droë weer wat vir langer as twee weke voorspel word, is gewoonlik ondersteunend vir pryse. Hierdie tye van ondersteuning kan met groter gemoedsrus gebruik word, indien die onderliggende rede vir die kommer verstaan word.

EL-NIŇO
Die El-Niňo effek word oor die algemeen by plaaslike produsente as ’n groot risikofaktor gesien. El-Niňo seisoen beteken verlaagde reënval vir die westelike produksiegebied en ook hoër temperature – beide is sleg vir die plaaslike witmielieoes. Die verwagte El-Niňo faktore vir Oktober tot Februarie is uiteengesit in Figuur 1.


Daaruit kan gesien word dat daar vir die komende seisoen ’n El-Niňo neutrale seisoen voorspel word. Die verwagting is dus dat die tropiese winde reg sal waai, sodat vog suidwaarts beweeg oor SuidAfrika.

INDIESE OSEAAN DIPOOL (IOD)
Warmer seetemperature in die westelike Indiese Oseaan (aan Suid-Afrika se Ooskus) beteken dat daar warmer water in die Mosambiekkanaal tussen Mosambiek en Madagaskar is. Hierdie warm seewater gee energie aan enige tropiese stelsel wat hier ontwikkel en lei dan makliker tot die vorming van tropiese siklone in die Mosambiekkanaal. Hierdie tropiese siklone ‘trek’ dan die vog weg van die Suid-Afrikaanse binneland na die oostelike deel van Afrika.

Die voorspelling vir die IOD vir Oktober tot Februarie is uiteengesit in Figuur 2.



Daaruit kan gesien word dat die verwagting vir hierdie effek hierdie seisoen aanvanklik positief is en daarna neutraal. Gewoonlik vorm tropiese siklone eers in die tydperk van Januarie – Maart, so die effek kan hierdie jaar minder wees.
Jy is welkom om met jou graanbemarker of graanmakelaar kontak te maak om die beplanning vir die komende seisoen te doen.