El Niño - Wat word verwag en wat wys vorige seisoene?




Die waarskynlikheid van ʼn El Niño verskynsel word tans (begin November 2018) geraam op ten minste 70% vanaf November 2018 tot Maart 2019. Die eerste gedagte wat by meeste rolspelers ontstaan, is die impak wat die verskynsel tydens die 2015-2016 seisoen gehad het op reënval en gevolglike swak opbrengsrealisasie.

Hierdie potensiële realiteit het ons genoop om die ENSO (El Niño Southern Oscillation) verskynsel in perspektief te beoordeel deur te kyk na die impak daarvan op die sentrale en westelike produksiegebied. As deel van die bespreking is dit egter sinvol om net weer te gaan kyk na die basiese agtergrond tot die verskynsel en hoe die bepaling daarvan plaasvind. Hierdie artikel fokus dienooreenkomstig op die agtergrond wat die basis sal vorm vir opvolgartikels oor die intensiteit van die ENSO-verskynsel en die impak daarvan op die sentrale en westelike produksiegebied.

El Niño en La Niña verskynsels is natuurlike globale weerverskynsels. Hulle ontstaan in die Stille Oseaan wanneer die atmosferiese druk tussen die eiland Tahiti en Darwin (Noord-Australië) wissel. Die meting van die verskil in atmosferiese druk tussen die twee verwysingspunte word gedoen deur middel van die SOI (Southern Oscillation Index). Die verskil in lugdruk veroorsaak dan dat passaatwinde (trade winds) wat normaalweg van die ooste na die weste oor die Stille Oseaan waai, nie meer hierdie patroon volg nie. Tydens ʼn El Niño-verskynsel verander die lugdruk sodanig dat passaatwinde verswak of selfs van rigting verander, wat veroorsaak dat warmer as normale see-oppervlaktemperature voorkom oor die sentrale en oostelike tropiese Stille Oseaan. 

Hierdie verskynsel gaan gepaard met ʼn verhoogde kans op onder-normale reënval oor die westelike dele van Suid-Afrika en veral die binneland van Oos-Australië. Die teenoorstaande verskynsel genaamd La Niña, gaan egter gepaard met bo-gemiddeld sterk passaatwinde wat warmer as normale see-oppervlaktemperature veroorsaak oor die noordelike dele van Australië met ʼn verhoogde kans op bo-normale reënval oor Australië en Suid-Afrika. 

Navorsing oor tyd het sodanig ontwikkel dat verskeie modelle geïmplementeer kan word in ʼn poging om die waarskynlikheid dat hetsy ʼn El Niño of La Niña verskynsel sal ontwikkel, te bepaal. Die eerste aanduiding van die ontwikkeling van die verskynsels is gewoonlik die verandering in SOI-waardes. Indien die SOI vir ʼn verlengde tydperk waardes groter as +7 aanneem, verhoog die waarskynlikheid van ʼn La Niña (natter produksieseisoen). Die teenoorstaande El Niño (droër produksieseisoen) verskynsel se waarskynlikheid verhoog egter indien SOI-waardes kleiner as -7 raak vir ʼn verlengde tydsperiode. Die SOI-data vir die afgelope drie seisoene word grafies in Figuur 1 voorgestel:

Program preview

Die waarskynlikheid van hetsy ʼn El Niño of La Niña verskynsel op grond van SOI-syfers, word bevestig deur die meet van see-oppervlaktemperature in die Nino 3.4 gebied waarna hierdie temperature vergelyk word met die langtermyn gemiddelde temperatuur. 

Hierdie see-oppervlaktemperature word as ʼn norm uitgedruk deur middel van maandelikse Oceanic Niño Indeks (ONI) waardes. Elke maandelikse ONIwaarde is die 3-maande gemiddeld van die see-oppervlaktemperatuur in die Niño 3.4 gebied. Indien daar 5 aaneenlopende ONI-waardes is wat warmer as 0.5° Celsius is, word ʼn El Niño verskynsel geïdentifiseer, maar indien die ONIwaardes vir 5 aaneenlopende maande koeler is as -0.5° Celsius, word ʼn La Niña verskynsel geïdentifiseer. Hierdie waardes is wel ook oor tyd verder geklassifiseer om die verwagte intensiteit van ʼn El Niño of La Niña verskynsel aan te dui. Die verdeling word gemaak in 0.5° Celsius intervalle soos aangedui in Figuur 2. Hierdie klassifikasie maak dit moontlik om vorige seisoene beter in te deel volgens die tipe seisoen wat ervaar is, soos opgesom in Tabel 1.

Program preview

Program preview

Teen hierdie agtergrond word dit dan moontlik om ʼn verwagting vir die nuwe seisoen te skep op grond van verskeie modelle wat die ontwikkeling in see-oppervlaktemperature projekteer.

Die gemiddelde verwagte see-opper vlaktemperatuur wat tans geprojekteer word, dui daarop dat dit na raming sowat 0.8° Celsius warmer as normaal kan wees vanaf November tot Februarie. Per definisie dui hierdie verwagting op ʼn swak El Niño gebeurtenis en die waarskynlikheid van die gebeurtenis word geraam op 70%.

Daar is egter wel ‘n buiteperd om in ag te neem tydens enige oorweging wat seisoenale klimaatsverwagting en gepaardgaande reënval insluit. Hierdie aspek is die ontstaan en ontwikkeling van tropiese siklone wat bekend is daarvoor dat hulle vog oor die binneland van Suid-Afrika uittrek en die kanse vir reën negatief beïnvloed. Die oorsaak en meting vir die ontstaan van hierdie verskynsels word aangedui deur die Oos-Indiese Dipool (OID). Indien die OID-waarde positief word, dui dit op warmer as normale see-oppervlaktemperature langs die ooskus van Afrika. Hierdie scenario veroorsaak verhoogde verdamping wat vog oor die land intrek, waarna hierdie vog weer oor die Indiese Oseaan uitreën.

Die waarde vir die OID is tans positief, maar die projeksies vir die OID-waarde tydens Januarie en Maart 2019 blyk neutraal te wees, wat daarop dui dat tropiese siklone waarskynlik nie ‘n bedreiging vir reënval sal inhou tydens die kritiese be - stuiwingsperiode nie.

Om saam te vat - hierdie artikel het nie ten doel om ʼn voorspelling te maak vir die 2018-19 seisoen ten opsigte van reënverwagting nie. Die inligting hierin vervat is gebaseer op werklike historiese realisasies van weerverskynsels en getoetste modelle oor tyd. Die afleiding wat uit die verwagtings gemaak kan word, is dat die 2018-19 produksieseisoen waarskynlik gekenmerk sal word as ʼn swak El Niño seisoen. 

Dit bly egter belangrik om hierdie verwagting in konteks te evalueer deur te kyk na die impak van ʼn El Niño gebeurtenis op opbrengs oor tyd. Hierdie opbrengsverwagting kan verder gekoppel word aan reënvalrealisasie tydens soortgelyke produksieseisoene in die Senwes gebied. In die volgende artikel sal daar spesifiek gekyk word na die impak van ‘n swak El Niño gebeurtenis.