Finansiële aspekte van voerkrale




Wat bepaal die risiko en winsgewendheid?

Die primêre taak van ’n voer­kraalondernemer is dus risikobestuur. ’n Voerkraal is ’n intensiewe veeproduksiestelsel wat die ondernemer in staat stel om die meeste produksiefaktore vir maksimum produksie en risikofaktore vir maksimum wins te beheer. Die risikofaktore kan in interne risiko’s, wat grootliks beheer kan word, en eksterne risiko’s, wat grootliks nie beheer kan word nie, verdeel word.


INTERNE RISIKO’S
Die grootste interne risiko is die bestuursvaardigheid van die ondernemer. Hierdie risiko’s word deur dag tot dag korrekte besluite en die uitvoering daarvan bepaal. Te midde van vele aktiwiteite sal die bestuur van die volgende aspekte die grootste impak op interne risiko’s hê:

Bedryfsrisiko: Elke aktiwiteit moet deur personeel uitgevoer word. Personeelkwaliteit is dus krities belangrik. Swak opgeleide en onbetroubare personeel verhoog die risiko van veral intensiewe produksiestelsels aansienlik. Verskeie take moet daagliks akkuraat en geroetineerd uitgevoer word en elke per­soneellid moet die rasionaal van elke taak verstaan en dit onafhanklik kan uitoefen.

Ontwerp en onderhoud van fasiliteite: Soos enige produksiestelsel is doeltref­fende toerusting en die regte ontwerp van fasiliteite wat onderhou word, noodsaaklik. Sodra toerusting en fasiliteite onvoldoende en selfs swak funksioneer, word die regte besluite al swakker uitgevoer en verhoog dit die risiko. Dit lei tot siste­miese onproduktiwiteit en swak bestuur, wat veral moeilik by ongunstige omstan­dighede kan aanpas.

Voeding: Die voeding van diere is ’n 24-uur operasie en is die grootste enkele kostefaktor in die voerkraal. Verskeie aspekte van voeding kan varieer en tot risiko bydra. Die prys van grondstowwe, veral energie in die vorm van graan, is ’n eksterne risikofaktor. Die korrekte besluite moet geneem word om die regte kombinasie van grondstowwe teen die goedkoopste prys aan te koop en ‘n finale voer daarmee te formuleer en te meng om maksimum verteerbaarheid, voerinname en dus produksie van ’n karkas te verse­ker. In hierdie proses is daar verskeie fak­tore wat kan varieer en tot risiko bydra.

Gesondheid: ’n Voerkraal gebruik lewen­dige diere wat metabolies optimaal moet produseer. Siek diere produseer swak. Intensiewe produksiestelsels verhoog spanning wat negatief op immuniteit en dus gesondheid inwerk. Die korrekte voorbereiding van diere met inenting en dosering, vroegtydige identifisering en behandeling van siek diere, doeltreffende aanpassing van diere by hoë-energievoer en intensiewe sosiale omstandighede, verlaag die risiko van swak gesondheid.

Produktiwiteit: Die produksieprestasie van ’n voerkraal word in terme van groeiprestasie (GDT), uitslagpersentasie of karkasproduksie, eindmassa of totale volume vleis geproduseer, voeromset en klassering of kwaliteit van karkas gemeet. Al hierdie faktore kan varieer en het ’n direkte en betekenisvolle invloed op die winsgewendheid. Hierdie faktore kan met korrekte bestuursvaardigheid gema­nipuleer word om die produksierisiko te verlaag.

EKSTERNE RISIKO’S
Die eksterne risiko’s word deur die variasie van markkragte (vraag en aanbod) op pryse van beide insetkoste en eind­produkinkomste, bepaal. Oor die langer termyn het mark- en prystendense in die bedryf ’n invloed op winsgewendheid wat tydens bestuursbesluite in ag geneem moet word. Die volgende is eksterne fak­tore wat oorwegend die winsgewendheid en risiko van ‘n voerkraal bepaal:

Aankoopkoste van 'n kalf: Om ’n karkas te kan produseer is ‘n kalf nodig. Eksterne markkragte bepaal die algemene nasionale aankoopprys van kalwers. Daar is wel faktore wat die kwaliteit en dus waarde van die kalf verander. Hierdie faktore is die genetiese groeivermoë, gesondheidstoestand, ouderdom, massa en geslag, wat almal ’n belangrike invloed op die groeiprestasie, prys en dus wins­gewendheid het. Die waarde van ’n kalf moet deur interne bestuursvaardigheid bepaal word en kan met die regte keuses ’n mededingende voordeel vir die voer­kraal word.

Voerkoste: Beeste benodig primêr voerenergie vir groei en die prys van mielies in Suid-Afrika bepaal grootliks die voerkoste. Energie maak tussen 70% en 80% van die voerkoste uit en die voerprys maak ’n prominente deel van die produksiekoste van ’n voerkraal uit. Ander ener­giebronne soos Hominy Chop is gewoon­lik ’n afgeleide prys van die mielieprys.

Vleisprys: Die inkomste van ’n voerkraal word weekliks deur die nasionale vleis­prys, onderhewig aan markkragte, bepaal. Dit kan oor ’n relatiewe kort tydperk, seisoenaal, verander en die voerkraal is aan hierdie prystendense onderhewig. Al aandeel wat die voerkraalbestuur in die vleisprys het, is om seker te maak diere word op die regte ouderdom en met die aangewese vetheidsgraad en dus klas karkas met die hoogste prys gelewer. Die beste kwaliteit karkasse is klas A1 tot A3, wat deurgaans dieselfde prys realiseer. Die vyfde kwart van die dier kan ook ‘n betekenisvolle bydrae tot die inkomste lewer, maar word gewoonlik as betaling vir slagkoste deur die abattoir gebruik.

RISIKOBESTUUR
Dit is belangrik dat die voerkraalbestuur die omvang van al bogenoemde risiko­faktore moet ken, verwag en ’n strategie ontwikkel om die impak daarvan so laag as moontlik te maak. Alhoewel stabiliteit of minimum risiko oënskynlik finansieel aantreklik lyk, skep dit nie mededinging nie en dit onderskei nie tussen goeie en swak bestuursvaardighede en dus besigheidsgeleenthede nie. Die uitdaging is dus om met al beter bestuursvaardighede vir noodwendige risiko’s voor te berei.

Daar is talle bestuursbesluite wat elk van die bogenoemde risikofaktore beïn­vloed. Om risiko doeltreffend te bestuur, moet risikofaktore gekwantifiseer en die gelykbreekpunt van elke faktor bereken word. Simulasiemodelle is kritiese hulp­middels om risikobestuur te ondersteun, maar dit kan nie bestuursvaardigheid afkomstig van kennis, ondervinding, persoonlike inisiatief, goeie oordeel en wysheid vervang nie.