Inheemse vrugtebome dalk die sleutel tot Afrika se voedselsekerheid

  • 19 Maart 2021
  • 2221
  • nuus



Volgens dr Abiodun Olusola Omotayo en prof Adeyemi Oladapo Aremu moet die uiteenlopende verskeidenheid inheemse vrugtebome as ʼn bron van onbenutte potensiaal beskou word gegewe die kontinent se vele uitdagings waaronder voedselonsekerheid, hongersnood en armoede.

ʼn Onlangse studie deur dié navorsingsduo het die voorkoms, verspreiding, voedingskomponente en medisinale potensiaal, sowel as die uitdagings en vooruitsigte van inheemse vrugtebome wat in verskillende ekologiese sones in Afrika voorkom, ondersoek. Een van die bevindinge wat die navorsers baie opgewonde maak is die vermoë van inheemse vrugtebome om lewensvatbare voedingstowwe te verskaf wat andersins nie baie algemeen in ander voedselbronne voorkom nie.

Ander eienskappe van inheemse vrugtebome sluit in hul aanpasbaarheid tot plaaslike grond-en klimaattoestande terwyl hulle ook beter as ander eksotiese of ingevoerde spesies reageer op stressors vanuit die omgewing.

Vir die doeleindes van dié studie het die navorsers op tien verskillende inheemse vrugtebome gefokus, naamlik: Die Afrika-kremetart (Adansonia digitata), die Transvaalse rooimelkhout (Mimusops zeyheri), die wilde lukwartboom (Uapaca kirkiana), die Kei-appel (Dovyalis caffra), die Mobola-pruim (Parinari curatellifolia), die Swartklapperboom (Strychnos spinosa), die Balanietboom (Balanites aegyptiaca), die Afrika Mango (Garcinia livingstonei), die Maroelaboom (Sclerocarya birrea) en die wilde medlarboom (Vangueria infausta).

Volgens dr Omotayo is die vrugte van hierdie bome uiteenlopend in kleur, tekstuur en vorm en as gevolg van verskillende vrugtydperke is die vrugte se beskikbaarheid gewaarborg. Laasgenoemde rede verseker gevolglik dat daar heeljaar deur aan die voedsel-en voedingsbehoeftes van plaaslike gemeenskappe voldoen kan word. Die vrugte is voorts ook ryk aan vesel, minerale, koolhidrate, organiese sure, vette, proteïene, yster, kalsium, magnesium, natrium, sink én vitamiene. In terme van medisinale waarde, beskik hierdie vrugte ook oor antioksidante, antimikrobiese en anti-inflammatoriese eienskappe.

“Die ryk voedingsamestelling van dié inheemse vrugte bied ‘n goeie beginpunt vanwaar die kontinent die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling kan aanspreek. Areas waarop daar gefokus moet word, is die beëindiging van armoede, die uitwissing van hongersnood en die bevordering van goeie gesondheid en welstand,” meen dr Omotayo.