Koue en nat winter word voorspel




Reënvaltoestande

Weerstelsels dui tans op die voortsetting van goeie reënvaltoestande, soortgelyk aan 2020, vir die volgende twee maande.

 Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige, verduidelik dat bogemiddelde warm see-temperature vanaf die Weskus tot verby Angola se noordelike grens ʼn gunstige uitwerking het ten opsigte van reënval vir die westelike dele van die land. Benewens hierdie bogemiddelde see-temperature dra verhoogde vogvlakke en die ontwikkeling van laagdrukstelsels ook by tot die gunstige reënvaltoestande wat vir die langtermyn voorspel word.

Hy sê dat reën gedurende die winter van 2020 baie ver noord voorgekom het en dat die droë westelike en suidwestelike binneland gevolglik nie baie reën gekry het nie. Hierdie toestande sal na verwagting vanjaar herhaal word.

Bibberweer

Volgens Van den Berg word kouer as verwagte toestande oor die sentrale en suidelike binneland verwag. Minimum temperature van -4°C of selfs laer is reeds in die sentrale, oostelike en suidelike dele van die Vrystaat en dele van die Oos-Kaap aangetref. In die Hoëveld van Mpumalanga het die kwik tot ʼn minimum van -2,5°C by Standerton gemeet. Hierdie toestande herinner baie aan dié van 2020 toe die eerste werklike koue weerstoestande ook teen einde Mei voorgekom het.

Van den Berg meen dat die kans vir sneeu, en redelike swaar neerslae daarby, baie goed lyk. Dié sneeuval word rondom 15 Junie verwag op die Drakensberge en omliggende gedeeltes, asook die berge van die Wes-Kaap.