Kroonstad, ‘n ware juweel




Die begin van Kroonstad

Net soos ‘n edelsteen oor baie jare gevorm word, is Kroonstad oor tyd gevorm. Staatspresident, JP Hoffman het 162 jaar gelede al, in 1854, die visie van ‘n gemeenskap in dié geweste gehad. ‘n Landdros van Winburg het toe die plaas Klipplaatdrif as area uitgesonder waar die dorpie gestig moet word en op 5 September daardie jaar is daar besluit om die daad by die woord te voeg. Die eerste erwe is toe uitgesit op Cronstadt, soos dit toe bekend gestaan het.

Goeie saaideel

Deur die jare was Kroonstad een van Senwes se grootste saai- en weidingsgebiede.

Boeregemeenskap

Ons het ook ‘n draai by een van die bekende produsente gemaak, wat op 80 nog steeds boer, naamlik Johan Minnaar. Volgens hom is daar “‘n goeie gesindheid onder boere, ‘n gees van leef en laat leef.” Hy onthou nog die ou dae toe daar iets soos sewe boeregemeenskappe hier was. “Tydens vorige droogtes het ek die geleentheid gehad om my vee te trek. Dit verskil egter die jaar.” Nog ‘n verskil wat hy agtergekom het: “Dit het nog nooit met my gebeur dat die lande hier nie teen Geloftedag geplant is nie.” In die verlede was daar ook in Kroonstad baie minder likwidasies as in ander gebiede.. En laastens die Vet- en die Valsrivier het besonderse goeie weiding waar baie van die beste boere is.

Boerevereniging

Die Holfontein Boerevereniging Studiegroep is ook in die Kroonstad omgewing. Voorsitter, Francois Els, wat al vir die laaste 15 jaar dié posisie beklee, vertel dat die 25 studiegroeplede moeite doen om mekaar by te staan en bymekaar te leer, veral in hierdie droogtetyd.

Voedselproduserende gebied

Kroonstad is al jare 'n prominente voedselproduserende gebied in Suid-Afrika. Oor die jare het koring uitgefaseer en waar skaapboerdery ook sterk was op ‘n stadium, het diefstal die bedryf gekortwiek. Daar word nou meer gefokus op mielies, sonneblom en aartappels.

Wild

Wildboerdery het in die laaste dekade ontplof met baie produsente wat hul grond begin toespan het. Oor die afgelope vyf jaar het dit geweldig uitgebrei. Elke tweede boer span ʼn kampie.

Die siening is dat wild uitstekende waarde bied, onder andere as gevolg van die feit dat dit goedkoper is om wild te voer. Swartwitpense in die area groei met rasse skrede en daar is  maklik 1 000 swartwitpense net in dié area. Renostergetalle is ook groot met sowat ses boere wat in laaste drie jaar toegetree het, vergeleke met een of twee in die verlede. Daar is ook die bekende Kroonstud, wat sewe telers insluit soos Cense Syncerus Buffels, Boschplaat Wild, Rooihoogte, Goliatskraal Wild, Korannaberg Wild, Soetvelde en die Crous Broers. Leeus vorm ook deesdae deel van dié wildbedryf hier.

Senwes betrokkenheid

Senwes Silo

Hannes Brits, die Senwes silobestuurder, is deel van ‘n span van 11 wat die daaglikse aktiwiteite op Kroonstad Silo behartig. Die uniekheid van die Kroonstad Silo is dat dit een van slegs vier Keeve Steyn silo’s in die Senwes stal is met Bultfontein, Theunissen en Wesselsbron die ander drie. Wat Kroonstad egter laat uitstaan is die feit dat die werkshuis apart van die silobuise is. Die kapasiteit van die Kroonstad Silo is 69 200 ton met 33 buise (21 ronde buise en 12 sterbuise) wat in 1964 opgerig is en vyf staalbuise wat eers in 1981 bygekom het.

Senwes Village Hinterland tak

Die silospan word ook aangevul met die Senwes Village Hinterland tak met Louis Lingenfelder aan stuur met sy span van 65 personeel wat sake bedryf.

Juwele uit die streek!

Kroonstad is sekerlik die bron van Suid-Afrikaanse skrywerstalent, met bekroonde skrywer Dot Serfontein wat hier woon. Serfontein se dogter, 'n ewe bekende digter, Antjie Krog, woon ook natuurlik in die omgewing. Nog ‘n skrywer, Max du Preez is ook ‘n Kroonstad uitvoerproduk en die sakewêreld se Brand Pretorius het ook in Kroonstad gematrikuleer.  Die voorsitter van die Senwes raad van direkteure, Danie Minnaar, sowel as die voorsitter van die Senwesbel direksie, Dries Kruger, is ook van hierdie area.

Ander produsente van ouds

Die Geldenhuyse en Jordaans was Afrikanerbeesprodusente in die middel van die vorige eeu met die Wesselse groot Merino skaaptelers en Willem Krog ook ‘n groot latelteler. Huidiglik is die Crous Broers ook besig om lekker groot naam te maak in die gebied, soos ons ook in kollig op hulle fokus.

Argitektuur

Sir Herbert Baker was die argitek van die poskantoor, stadsaal en Standard Bank geboue. Hy was natuurlik ook verantwoordelik vir die ontwerp van die Uniegebou in Pretoria. 

Geskiedkundige kerke is die omgewing sluit in die NG Moedergemeente, wat tydens die Anglo-Boereoorlog as hospitaal vir die Britte gebruik is. Die NG Kerk-Noord en NG Kerk-Suid, sowel as die St John’s Metodiste Kerk, is ook pragtige gebour, om maar net 'n paar te noem.

Sarel Cilliers het ook sy rol in die dorp gespeel en ‘n standbeeld is ter ere van sy bydrae op die terrein van die NG Moedergemeente opgerig. Dit is ook die moeite werk om die konsentrasiekerkhof te besoek, waar hulde aan 1 288 gestorwenes gebring word.

Slot

Kroonstad is bepaald ‘n unieke en waardevolle edelsteen in ons geweste, wat met die tye saamleef en aanpasbaar is. As jy dalk met die agterdeur die stad binneval, waar die stad bietjie verval het, en jy deur padwerke moet struikel, weet net dat hierdie streek en sy mense van onskatbare waarde is. Hoe meer druk op jou uitgeoefen word, hoe beter diamant sal op die einde van die dag geproduseer word.

Bou so voort ons kroon van stede!

Interessant: Daar ‘n plek genaamd, Kronstad wat ‘n streek in Årstad, Noorweë is. Daar is ook ‘n munisipale gebied in St Petersburg, Rusland, genaamd Kronstadt.