Lang wagtye vir onderdele kan produksieseisoen kniehalter

  • 13 Augustus 2021
  • 1635
  • nuus



Só meen Corné Louw, senior ekonoom verbonde aan Graan SA. Hy skryf die probleem toe aan die ontwrigting wat tans ervaar word in die aantal skeepsvraghouers met onderdele wat die land binnekom. Dié ontwrigting veroorsaak stygende logistieke pryse, wat uiteindelik tot ʼn groot styging in die prys van onderdele sal lei.

Volgens Louw probeer landboumaatskappye hul bes om onderdele betyds by produsente te kry, maar die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en die lugvragontwrigting weens die Covid-19-pandemie vermoeilik dié proses. Op die keper beskou hou hierdie probleme ʼn daadwerklike gevaar vir die komende produksieseisoen in omdat Suid-Afrika die grootste deel van sy insette invoer.

“Vroeër kon invoerders staatmaak op meer vlugte en kon hulle onderdele makliker invoer,” verduidelik Louw en voeg by dat minder vlugte tans beteken dat dit nou langer vat om onderdele in die land te kry. In ‘n poging om hierdie ontwrigting aan te spreek moet maatskappye self spesiale vlugte huur om onderdele in te bring, wat nie net kostes aansienlik verhoog nie, maar ook nie op die langtermyn volhoubaar is nie.

‘n Wêreldwye probleem

Volgens Jaco Breytenbach, ondervoorsitter van Graan SA se produksie-en-insetwerkgroep, word hierdie logistieke probleme wêreldwyd ervaar.

Hy meen die blokkering an die die Suez-kanaal vroeër vanjaar moet ook nie uit die oog verloor word nie. Hierdie blokkering het daartoe gelei dat skeepsvraghouers nie betyds by hul bestemming uitgekom het nie, en wat nou ‘n domino-effek het op verskaffing.

“Die pandemie het voorts veroorsaak dat die getal vragvliegtuie, asook passasiersvliegtuie wat van hierdie onderdele in hul vragruim sou vervoer, drasties verminder is,” sê Breytenbach en voeg by dat minder onderdele die land kon bereik.

Breytenbach som op deur te sê dat onderdele wel beskikbaar is, maar dat nie in Isando of Durban te vinde is nie, maar eerder in Doebai of êrens in Europa.

Die impak of Senwes Equipment

Volgens Ferdie Pieterse, besturende direkteur van Senwes Equipment, ervaar die meeste vervaardigers tans ʼn tekort aan staal, koper en/of elektroniese komponente. Hierdie tendens veroorsaak dat Senwes Equipment se leitye met ongeveer drie maande verleng word.

As dit kom by skeepsvragte, meen Pieterse dat die aflewering van masjienkomponente nou vier tot sewe weke langer neem as ʼn jaar gelede, en dat die kostes ook baie meer is.

“Ons is gelukkig dat ons die meeste van ons onderdele binne ʼn billike tyd ontvang,” sê Pieterse en noem dat Senwes Equipment sy onderdele voorraad aansienlik uitgebrei en verhoog het ten einde hierdie probleme die hoof te bied. Tot op hede is daar nie te veel items wat nie voorsien kan word nie.

“Vir noodgevalle kyk ons waar ons gebruikte items kan kry, of waar ons gebruikte masjinerie vir onderdele afgetakel kan word. Ek is regtig bly om te sê dat met goeie beplanning en verskerpte kommunikasie kon ons tot dusver in al die behoeftes van ons klante voldoen, al neem dit soms langer as gewoonlik,” sê Pieterse.

Die grootste invoerkomponent vir Senwes Equipment is John Deere, terwyl die volgende masjienkomponente deur Staalmeester en Falcon ingevoer word:

Staalmeester: BGU, JF, Teagal, Celmac, Metkarsan, Qingdao Global Agri Resources, Green Tec, Soilmaster (Somtar ), Enorossi, Junkkari, Selvatici en Heizohack.

Falcon: AMA S.P.A., Bawa Industries, Bellota Agri Solutions, Brohawk Exports, BRW, Comer Industries, Battista, Amazone en Votex.