#NIG2022 | Die toekoms van landbou: 'n nuwe generasie




Die paneel het bestaan uit Jeremia Mathebula (Graan SA), Karidas Tshintsholo (Khula), Sinelizwe Fakade (Rocky Park Farming Group and Ukhanyo Farmer Development), dr Johnny van der Merwe (AMT) en dr Tracy Davids (BFAP).

Die sessie het afgeskop met 'n boodskap vanaf voormalige Graan SA Voorsitter, Jannie de Villiers. Hy het die analogie van migrerende wildebeeste gebruik om die boodskap oor te dra dat dit tyd vir die jonger geslag is om op te staan en 'n verskil te maak binne die landbou-omgewing. Hy het verduidelik dat dit belangrik is om die eerste stap te neem vanuit die spreekwoordelike droë gebiede (wat na uitdagings verwys - huidig en uit die verlede), dat jong leiers moet opstaan en leierskap neem deur moeilike tye, dat kennis geneem moet word dat dit nie 'n maklike pad is nie, maar 'n pad waar die beloning groot is, en dat die toekoms veel beter is vir ons almal as in die verlede. Ter afsluiting het hy gesê dat dit belangrik is vir die jeug om die leiding te neem met geleenthede binne die landbousektor tussen hulle ouderdoms-eweknieë.

Maak die pad gelyk vir die jeug

Volgens dr Davids wys die Landbou Meesterplan wat onlangs bekendgestel is, sowel as die Landbou-ontwikkelingsplan voor dit, die pad vorentoe aan vir die sektor. Die fokus behoort egter nou op die implementering van die planne te wees. Dit is binne hierdie spasie waar die jeug kan bydra tot 'n nuwe en vars perspektief.

Tshintsholo is dit eens en voeg by dat die jeug 'n belagrike rol kan speel in die herdefiniëring van die beeld van die landbousektor. Ten einde hulle in staat te stel om die leiding te neem in die sektor, is dit egter nodig om 'n stewige besigheidsplan vir nuwe toetreders tot die sektor te ontwerp. Ter illustrasie van dié punt, verwys hy na voorbeelde van suksesvolle tegnologie, soos Uber en Airbnb, wat vervelige konsepte soos die huurmotorbedryf or ongebruikte kamers in baie interessante en lonende konsepte omskep het.

Fakade is op sy beurt van mening dat ten einde suksesvol te wees in die sektor, moet jong mense wat die sektor betree hulself sodanig posisioneer dat hulle ondersteuning sal geniet. Dit beteken dat hulle 'n balans moet skep tussen teoretiese kennis en praktiese ondervinding. Dr Van der Merwe het hierdie opvatting ondersteun en gesê dat onderrig 'n goeie beginput is, maar vanaf dié punt moet potensiële nuwe toetreders praktiese ondervinding opdoen.

“Dit is nou die tyd om 'n blink toekoms te verseker”, het Mathebula gesê en verduidelik dat die huidige landbousektor sterk is en derhalwe uitdagings kan hanteer, terwyl dit terselfdertyd nuwe toetreders tot die sektor kan verwelkom. Hy is egter van mening dat die regering 'n belangrike rol sal moet speel om hierdie proses te help fasiliteer.

Praktiese raad 

Die paneel het die volgende raad vir die jeug om makliker tot die sektor toe te tree:

  • Belê tyd daarin om 'n mentor te vind wat jou die nodige kan leer oor die bedryf.
  • Ontwikkel ondersteuningsnetwerke en vennootskappe wat waarde sal toevoeg tot dit waarvoor jy jou beywer.
  • Begin om met gevestigde rolspelers in die bedryf te skakel.
  • Doen praktiese ondervinding op.
  • Bekom toepaslike en intydse inligting.
  • Moenie bang wees vir mislukking nie, aangesien dit 'n stap nader aan sukses is.

Hoe lyk die landbouleier? Die paneel het die volgende karaktertrekke geïdentifiseer:

  • Iemand wat aanpasbaar is.
  • Iemand wat entoesiasties oor die bedryf in al sy vorme is.
  • Iemand wat tot die besef gekom het dat landbou nie 'n korttermynbelegging is nie.
  • Iemand wat die waarde van 'n geïntegreerde en inklusiewe benadering verstaan.
  • Iemand wat goed ingelig is.
  • Iemand wat 'n kundige in veelvoudige dissiplines is en wat in die etos van 'n lewenslange leerkurwe glo.

Sihlobo het die sessie afgesluit met die stelling dat die jeug 'n nuwe perspektief, energie en innoverende denke na die landbousektor kan bring in 'n tyd van hoë werkloosheid­syfers, ongelykheid en stadige ekonomiese groei. In kort: blaas nuwe lewe in die sektor en dra by tot volhoubare winsgewendheid.