Pandemie kelder NAMPO Oesdag 2021

  • 04 Junie 2021
  • 1807
  • nuus



Dit volg nadat dié landbouskou vroeër vanjaar na 17 tot 20 Augustus herskeduleer is.

Volgens ʼn persverklaring wat in hierdie verband uitgereik is, het die aanvang van die derde vlaag Covid-19-infeksies en die wysigings aan die nasionale inperkingsvlakke die organisasie genoop om die geleentheid te kanselleer. Met meer as 750 uitstallers wat jaarliks aan hierdie landbouskou deelneem, word die visier nou op 2022 gestel.

Gedurende die eerste helfte van 2021 het Graan SA voortgegaan om die oplewing in die nasionale koronaviruspandemie en die gepaardgaande regulasies en beperkings te monitor. Die stygende Covid-19-gevalle het intussen gelei tot verdere beperkings op buitelug byeenkomste. Laasgenoemde stel ingewikkelde uitdagings aan die organiseerders, en in die belang van alle besoekers, personeellede, uitstallers en die gesondheid en veiligheid van die plaaslike gemeenskap, is die Oesdag gekanselleer.

"Die besluit om enige byeenkoms te kanselleer of uit te stel, veral die NAMPO Oesdag – die grootste landbouskou in die suidelike halfrond – is geen maklike roep vir enige organisasie nie," het Jannie de Villiers, uitvoerende hoof, gesê. “Gebeurtenisse van hierdie skaal verg aansienlike investering van tyd en hulpbronne deur die organiseerders, goedkeuringsinstansies op plaaslike en nasionale vlak, uitstallers en diensverskaffers, en daar moet vroegtydig besluit word of NAMPO 2021 moet voortgaan, of nie”, het de Villiers bygevoeg.

Graan SA het deurlopend met sy NAMPO-vennote en belanghebbendes beraadslaag ten einde die moontlikheid te evalueer om die gebeurlikheid in 2021 in die oorspronklike formaat aan te bied, terwyl die veiligheid van sowel uitstallers as besoekers deurentyd oorweeg is. "Die NAMPO Oesdag benodig maande se beplanning van die organisasie en sy uitstallers, en omdat baie van sy vennote steeds deelname aan en bywoning van geleenthede verbied, was die besluit om die geleentheid te kanselleer, weereens 'n noodsaaklike besluit," het dr. Dirk Strydom, Bestuurder: Graan-ekonomie en bemarking gesê.

Die NAMPO Kaap-skou, geskeduleer vir 8 tot 10 September 2021 in Bredasdorp, Wes-Kaap, en die NAMPO Alfa-skou, beplan vir 30 September tot 2 Oktober 2021 op NAMPO Park, Bothaville, is ook gekanselleer. Die besluit om hierdie twee gewilde streekskoue aan te bied, sal heroorweeg word indien regeringsregulasies gewysig word.