Potensiële stappe en opsies om te oorweeg ten einde die finansiële posisie en prestasie van jou boerdery te verbeter




Elke boerdery beskik oor ʼn unieke stel omstandighede en gevolglik is dit noodsaaklik om die impak daarvan op die finansiële posisie so akkuraat moontlik te bepaal eerder as om te wil veralgemeen.   

Logiese vertrekpunt – Om te meet is om te weet!

  • Doen ʼn deeglike ontleding van die totale boerderybesigheid (alle entiteite) se finansiële posisie. Tendensanalise van kritiese finansiële en doeltreffend­heidsverhoudings vanuit vergelykende balans- en inkomstestate oor tyd asook kontantvloeibegroting is noodsaaklik.
  • Hoe meer intyds, volledig en betroubaar die bestuursinligting, hoe vinniger en akkurater die ontleding, diagnose en implementering van proaktiewe of regstellende maatreëls. Senwes Credit se Landbou-ekonomiese Dienste beskik oor ʼn E-Buro diens wat juis ten doel het om sodanige ontleding vir u boerdery op ʼn jaarlikse grondslag te kan doen en monitor. 
  • Doen ʼn strategiese ontleding (SWOT-analise) en hersien korttermyndoelwitte en langtermyndoelstellings waar nodig.
  • Proaktiewe optrede deur gebruik te maak van scenariobeplannings stel u in staat om sinvol met u boerdery se finansiers te praat. Probleme kan sodoende betyds geïdentifiseer en gesamentlik aangespreek word.
  • Bepaal uit bogenoemde ontleding of probleme kort- of langtermyn van aard is aangesien dit verskillende optrede en oplossings gaan verg.
Oorwegings om korttermyndruk te verlig
Korttermyn finansiële probleme (gewoonlik gebrek aan likiditeit/kontantvloei) wat nie die gevolg van swak bestuur is nie (onvoorsiene terugslag), kan relatief maklik reggestel word deur byvoorbeeld:
  • Bekom oorbruggingsfinansiering.
  • Onderhandel tydelike moratorium op paaiementbetalings.
  • Verkoop van onproduktiewe boerderybates – maak balansstaat meer vaartbelyn. Produktiewe bates behoort minstens 75% van totale bates uit te maak.
  • Addisionele vee/surplus graanverkope – kuddebou of berging van graan in silo ten tye van ernstige kontantvloeidruk het selde die gewenste uitwerking.
  • Aanwend van finansiële reserwes – realiseer korttermynbeleggings, afkoop van polis(se) en leen teen uitkeerpolisse as werklik laaste uitweg.
  • Onderhandel verlengde betalingsplanne vir termynskuld en batefinansiering.
  • Konsolidasie van opgehoopte korttermynskuld, gegewe boerdery is steeds onder genormaliseerde omstandighede daartoe in staat om konsolida­sie­paaiement te diens. Waar O/R harde kern gekonsolideer word, behoort limiet dienooreenkomstig verminder te word.
    Voorraadbestuur – beperk “dooie” voorraad tot die minimum. Korting op vervroegde aankope moet addisionele finansieringskoste wat aangegaan is oorskry om dit wel te regverdig. Maak dus seker tradisionele Februarie belastingaankope hou wel die nodige kontantvloeivoordele in.
  • Maak seker die finansieringstermyn(e) stem ooreen met bruikbaar­heids­leeftyd van bate.
  • Effektiewe bestuur en vordering van debituere van 60 dae plus behoort indringend angespreek te word.
  • Ongeag welke opsie(s) oorweeg word, is dit noodsaaklik om die wenslikheid (praktiese uitvoerbaarheid en lewensvatbaarheid) daarvan aan die hand van ʼn volledige 12-24maande kontantvloeibegroting te toets. Senwes Landbou-ekonomiese Dienste kan u hiermee behulpsaam wees - kontak ons gerus.

In die volgende uitgawe van Senwes Scenario word daar in Deel 2 gekyk na moontlike opsies wat oorweeg kan word wat 'n langer termyn impak op die finansiële posisie en struktuur van boerderybesigheid tot gevolg kan hê.


Vir enige navrae kontak:

Johan du Toit Bestuurder SENWES LED

018 464 7543