Presisietegnologie en Suksesvolle Plantaksie




GROND
Optimale produksie begin by presisiekaarte ten opsigte van grondtekstuur, gronddiepte, brutodigtheid en plantbeskikbare waterkapasiteit. Die chemiekaarte word vir veranderlike regstelling gebruik.

GEWAS
Die keuse van ‘n gewas word bepaal deur natuurlike hulpbronne, finansiële oorweging en langtermynstrategie. Die opbou van organiese materiaal vir die verbetering van grondfisiese en -chemiese faktore deur middel van ‘n rotasiestelsel, behoort oorweeg te word ten einde risiko te verminder en langtermynvolhoubaarheid te verseker.

Die doel van kultivarkeuse is om risiko te beperk en word op produkinligting van saadmaatskappye en nasionale kultivarproewe gebaseer.

KLIMAAT
Grondtemperatuur, grondvog, voorkoms van reën en die midsomerdroogte is die faktore wat bepaal watter gewas/kultivar wanneer geplant gaan word.

TEGNOLOGIE
Suksesvolle waardetoevoeging tot die investering in veranderlike toedieningskaarte word bepaal deur die planter en die tegnologie waarmee dit toegerus is.

Die doel van ‘n planter is om saad binne die grond te plaas en terselfdertyd ‘n omgewing te skep wat bevorderlik is vir gelyktydige ontkieming, opkoms en byna 100% blootstelling van al die plante aan sonlig. Hierdie vereiste vir optimale saad- en kunsmisplasing is krities vir optimale voedingstofopname, groei en omskakeling van lig en chemiese energie na opbrengs.

‘n Planter het elke seisoen net een kans. Gee jouself die beste kans. Die ou stelling van “om te meet is om te weet” is van toepassing. Precision Planting het tegnologie ontwikkel waarmee die effektiwiteit van enige planter bepaal kan word, asook die finansiële impak daarvan. Dit gee ook 'n aanduiding van waar die swak skakel(s) is. Laasgenoemde behoort aangespreek te word om winsgewendheid te verhoog. Dis nie meer nodig om in die lug rond te tas of ongelooflike risiko’s met baie duur insette te neem nie.

Weet alles wat jou planter per ry doen – skoon plantvoor, korrekte drukking op die grond, voldoende vog in die plantvoor, temperatuur van die grond, populasie, singulasie, spasiëring, korrekte vakuumlesing, korrekte kunsmisplasing per ry en per sone per produk, korrekte insekdodertoediening per ry en per sone. Hoekom 80% effektief wees as jy 99% effektief kan wees? Dit het die potensiaal om die verskil tussen 6 ton en 8 ton te maak.



Sorg dat jou plantereenhede vroegtydig getoets word om onnodige verliese te vermy. Kontak die planterspesialiste vir ‘n ontleding en aanbeveling om jou bestaande planter na die volgende prestasievlak te neem.

Cerealis (kantoor) +2718 632 0362
Cerealis: Lourens Janse van Rensburg (Areabestuurder; Vrystaat, Kwazulu-Natal & Oos-Kaap) +2782 859 5982
Senwes: Presisieboerdery: Petrus van Staden (Presisieboerderyspesialis) +2776 219 3778
Senwes Presisieboerdery: Etienne Nel (Bestuurder: Presisieboerdery) +2783 298 1553
Senwes Equipment: Basie Jordaan (Verkoopsbestuurder: John Deere) +2783 447 3379