Sakevertroue in landbou normaliseer na rekordlopie

  • 17 September 2021
  • 1334
  • nuus



Die indekspunt vir landbou van 67 verteenwoordig ʼn afplatting van agt indekspunte teenoor die algehele rekordvlak van 75 wat tydens die tweede kwartaal aangeteken is.

Volgens Wandile Sihlobo, Agbiz se hoofekonoom en samesteller van die indeks, is dié indekspunt steeds hoër as enige indekspunt wat sedert 2014 behaal is en is dit ook gerieflik bokant die normale vlak van 50. Sihlobo meen dat gunstige omstandighede steeds vir die Suid-Afrikaanse landbousektor en vir landbou-ondernemings geld.

Meer oor die sakevertroue-indeks

Die opname vir hierdie indeks is gedurende die laaste week van Augustus en die eerste week van September gedoen en landbou-ondernemings wat in alle subsektore oor Suid-Afrika heen sake doen, het deelgeneem.

Die opname dek tien sub-indekse, waarvan vertroue in almal gedaal het, hoewel die daling in finansieringskoste as gunstig geïnterpreteer word. Laasgenoemde het met 2 punte tot 55 teruggesak, wat volgens Sihlobo die huidige laer rentekoerse weerspieël.

Die grootste daling is aangeteken in die sub-indeks wat ekonomiese toestande meet. Dit het tot 48 punte gedaal. Ander skerp dalings sluit in algemene landboutoestande (14 punte laer op 69), voorsiening vir swak skuld (18 punte laer op 68) en kapitaalbeleggings (11 punte laer tot 58 punte).

Omdat die derde kwartaal minder bedrywig as die tweede kwartaal was, het die sub-indeks vir indiensnmeming met 7 indekspunte tot 59 gedaal, terwyl die sub-indeks vir omset en netto bedryfsinkomste met onderskeidelik 9 en 7 punte tot 82 en 84 teruggesak het.