Sommer maklik in die somer




Gelukkig gaan dit in die somer sommer baie makliker. Onthou om eerstens jou besproeiingstelsel terug te stel na jou somerstelling.

Vir diegene wat nog nie ’n koelteboom het om onder te ontspan nie, is nou die tyd om een te plant. Onthou dat ’n boom sy hele leeftyd op daardie selfde plek gaan staan, so maak seker dat die plantgat deeglik voorberei is. As jou gras nog nie teen die tyd groen is nie, strooi kunsmis uit, maak jou grasperk goed nat en sny gereeld die gras.

Vul jou reeds voorbereide beddings op met somerblomme soos petunias, dianthus en verbenas wat tot in die herfs sal blom. Onthou dat dit nie altyd goed is om jaar na jaar dieselfde blomme op dieselfde plekke te plant nie. Siektedruk sal opbou en later ’n groot probleem word.

Plant dus verskillende soorte blomme elke jaar of dieselfde blomme, maar in ander beddings. In semi-skaduplekke kan begonias of torenias geplant word.

Nou is ook die tyd om steggies van jou impatiens te neem. Dit kan onder die onderste node afgesny word en in ’n deurskynende glas met water gehou word om te bewortel.

Die roosliefhebber kan aanhou om dooie knoppe af te breek en rose te voed, sodat dit in Januarie gesonde nuwe groei kan toon. Wees ook teen Desember op die uitkyk vir rooispinmyt.

Die dames wat daarvan hou om vars produkte vir die kombuis te kweek, kan nou ’n deklaag onder hul aarbeie gooi om die grondtemperatuur te verlaag en so ook verdamping van vog te voorkom. Onthou dat groenrissies en tamaties ’n langer seisoen nodig het om te groei, en nie later as Oktober uitgeplant moet word nie. Hulle sal ook volson benodig. Groente kan teen November met ’n kunsmismengsel soos 3:1:5 bemes word om blomvorming en goeie vrugset te bevorder. ’n Lekker wenk om insekte in jou groentetuin onder beheer te hou, is om gousblomme of roosmaryn tussen jou rytjies groente te plant.

Vir die van julle wat so bietjie lui was die winter en ook nie nou baie moeite wil doen nie, is daar ook steeds hoop: Dien “slow release” kunsmis in jou tuin toe om jou hoeveelheid toedienings deur die seisoen te verminder. Spring ook weg en roei gou daardie onkruid uit voordat hulle te groot word en die oorhand kry. Plant dan ook kruipende grondbedekkers soos gazanias, hulle verg baie minder aandag, bemesting en water as ander eenjarige plante. Gooi ’n deklaag van organiese materiaal in jou tuin om verdamping te verminder.

Geseënde feestyd aan al die tuinliefhebbers. Lekker tuinmaak!