Stygende elektrisiteitstariewe is grootste hindernis vir landbou en die breër ekonomie

  • 21 Mei 2020
  • 4031
  • persverklaring



Agri SA het skriftelik kommentaar aan Nersa gelewer en ‘n voorlegging gedoen tydens die openbare verhoor in Februarie 2020. Ons insette het die belangrikheid van die landbousektor vir voedselsekerheid, asook die nadelige impak van stygende elektrisiteitstariewe, uitgelig. Nersa se redes vir sy besluit en ‘n implementeringsplan vir die 2018/19 RCA-balans moet nog vrygestel word. Hierdie RCA-balans sal dan verhaal word deur middel van verdere elektrisiteitstariefverhogings.
 
Om in bedryf te bly, moet Eskom al hoe hoër tariewe instel. Swak ekonomiese toestande en prys-sensitiewe verbruikers manifesteer egter in laer elektrisiteitsverkope. As gevolg van die nasionale inperking en beperkte ekonomiese aktiwiteite, is daar ‘n verdere afname in aanvraag en verkope. In reaksie hierop, sal Eskom weereens hoër tariewe moet instel, wat die kragvoorsiener dus verder in ‘n ‘dodelike spiraal’ sal afdruk. Die huidige trajek van stygende elektrisiteitstariewe is nie volhoubaar nie.
 
Die landbousektor speel ‘n kritieke rol om te verseker dat daar aan nasionale voedselsekerheidsvereistes voldoen word. In die konteks van COVID-19 is dit selfs belangriker vir die landbousektor om voldoende, bekostigbare voedsel te voorsien. Meer as 25% van die land se voedsel word deur besproeiing-afhanklike en energie-intensiewe bedrywe geproduseer, insluitend tuinbou, suiwel, pluimvee, graan en agro-verwerking.
 
Boere is prysnemers, dit wil sê hulle kan nie van verbruikers verwag om die verhoogde kostes te absorbeer nie. Volgens DALRRD se amptelike syfers, beweeg die pryse van landbouprodukte sywaarts vir die afgelope twee jaar (2017/18 - 2018/19). Elektrisiteit is ‘n sleutel produksie-inset en gevolglik sal verhoogde tariewe ‘n ernstige impak op die landbou hê.  Landboubesteding aan elektrisiteit in 2019 het ongeveer R7,4 miljard beloop. Die komende verhoging in elektrisiteitskoste sal geweldige druk uitoefen op landbou-ondernemings se likiditeit, aangesien elektrisiteit ‘n aansienlike persentasie van hul veranderlike kostes uitmaak.
 
Alternatiewe oplossings, as deel van die hervorming van die energiesektor, moet voorsiening maak vir groter privaatsektor-deelname en -mededinging in die opwekking van elektrisiteit ten einde dit meer bekostigbaar te maak.
 
Die Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel is aktief op verskeie fronte ter ondersteuning van die uitbreiding en volhoubaarheid van die landbousektor. Wat elektrisiteit betref, doen ons voorspraak om elektrisiteit- en vaste-koste tariefverhogings te beperk, terwyl ons reeds aansienlike sukses behaal het met die daarstelling van ‘n meer gunstige bedeling vir hernubare energie in die landbousektor
 
Tariefverhogings word geïmplementeer volgens die ERTSA-metodiek waar vaste-koste tariewe verhoog word met dieselfde persentasie as elektrisiteitstariewe. Agri SA het onderneem om verskeie aksies te loods om hierdie aangeleentheid met Nersa en Eskom op te neem.
 
Eskom se inkomste-aansoek by Nersa en die goedgekeurde persentasie verhoging in elektrisiteitstariewe is gegrond op vooruitsigte vir elektrisiteitsverkope. Om hierdie rede was ons nog altyd van mening dat vaste-koste tariewe nie verhoog moet word op dieselfde basis of met dieselfde persentasie nie. Ons sal voortgaan met ons pogings om ‘n volhoubare oplossing te steun ten einde elektrisiteit meer bekostigbaar te maak vir die sektor as geheel.
 
Navrae:
Nicol Jansen
Voorsitter: Agri SA Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel
(S) 082 948 2629
 
Dr Requier Wait
Hoof: Agri SA Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel
(S) 073 304 0932