Só lyk landbou se toekoms; wys NAMPO 2019

  • 22 Mei 2019
  • 5185
  • press-release



Ná die grondhervormingsdebat, droogte en lae graanpryse van die afgelope jaar, was die gemoedelikheid en positiwiteit van produsente merkbaar. “Dit is opmerklik dat die onsekerheid minder is as verlede jaar. Ek het ʼn oplossing- en ʼn groeigedrewe ingesteldheid by produsente opgemerk,” het Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, gesê. 

Die Nasie in Gesprek-forum se gesprekspunte het vanjaar verskuif van grondhervorming na dit wat nodig is om die landbousektor en die land se ekonomie te laat groei. Wat na vore gekom het, is dat die landbousektor positief is om die plan vir ekonomiese groei te laat slaag. Sake waaraan die regering dringende aandag behoort te skenk, behels finansiering vir swart boere, die uitbreiding van markte, winsgewendheid van die sektor, ʼn nasionale oesversekeringsubsidie, vaardigheidsontwikkeling, verbetering van infrastruktuur asook navorsing oor veral klimaat.

Op sy eerste besoek aan die NAMPO Oesdag het die adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, Sfiso Buthelezi, dit beskryf as die landbousektor se bes bewaarde geheim wat deur almal in Suid-Afrika wat voedsel verbruik, ervaar moet word. Hy sê in Chili en Argentinië – waar hy soortgelyke skoue bygewoon het – kom dié lande tot stilstand om produsente te ondersteun. “Ek kan nie verstaan hoekom dit nie in Suid-Afrika ook die geval is nie,” het hy bygevoeg.

NAMPO se fokus as handelskou word deurlopend behou, maar die menskant van NAMPO is ʼn onmiskenbare kenmerk en die vestiging van verhoudinge, vennootskappe en vriendskappe bly ʼn trekpleister. “Dit is vir Graan SA ʼn voorreg om ‘n NAMPO-platform te skep vir produsente en deur produsente. Om ons lede, meningvormers, rolspelers, politici en selfs landbou se pioniers by die Oesdag te ontvang, is telkens ‘n hoogtepunt,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, gesê.

Volgens De Villiers bied NAMPO jaarliks aan die landbousektor ʼn platform om een groot strategiese beplanningsessie te hou. “Individuele en kollektiewe planne vir die volgende jaar word hier gemaak om terug te neem na plaasvlak. Met die groter aanbod van tegnologie en geleenthede wat hier ontstaan, verg NAMPO toenemend meer as ‘n een dag-besoek. Dit is opmerklik dat – net soos die drywers en rigtinggewers van landbou – daar regdeur die NAMPO-week ʼn teenwoordigheid van insetverskaffers en landboubesighede se uitvoerende hoofde en ander besluitnemers op die terrein te sien is,” het De Villiers gesê.

Dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking van Graan SA, sê vanjaar se 775 uitstallers het steeds aftrek gekry ten spyte van die heersende ekonomiese druk op verbruikers. Sommige uitstallers het rekordverkope gehad. “Volgens uitstallers het die besoekers aan hul uitstalruimte gesorg vir kwaliteit navrae en belowende leidrade – wat baie meer werd is as net ʼn volume mense.”

“Ons mikpunt is nie om groter te gaan nie, maar om die ervaring vir besoekers deurlopend op so ʼn standaard aan te bied, dat hulle volgende jaar weer wil kom. Die grootte van die terrein en die infrastruktuur wat goed versprei is, sorg reeds vir ‘n rustiger ervaring wat gesinsvriendelik is en iets vir elkeen bied. Selfs die vliegveld het ‘n rekord van 376 vliegtuie en 63 helikopters met gemak hanteer,” aldus Strydom.

Die datums vir volgende jaar se NAMPO Oesdag is vasgestel op 12 - 15 Mei 2020.

Uitgereik deur:
Graan SA Kommunikasie 

Verdere navrae: 
Jannie de Villiers, Chief Executive Officer