Winter klop aan die deur




Berei beddings voor deur organiese kompos in die area in te werk, tot ‘n graafdiepte.  Meeste van die groente kan van saad gegroei word. Indien jy wortels, beet en uie saai, is dit beter om dit bietjie te dik te saai en dan uit te dun as om dit te yl te saai.


Kool, blaarslaai en spinasie plant baie maklik uit en kan dus op ‘n klein oppervlak gesaai word tot die plantjies groot genoeg is vir verplanting. Seldery is ook maklik om uit te plant. Bemes die tuin met organiese bemesting om te verseker jy kry gesonde groente vir jou en jou gesin.


Wenke

Meng knoffel en uiesap met chillipoeier, water en babasjampoe as ‘n teenmiddel vir ongewenste goggas en plae.


Gebruik ‘n organiese grondbedekking (mulch) om water te bespaar aangesien groenteplante baie dorstig is.


Lys van wintersgroente wat geplant kan word:

Uie, wortels, beet, radyse, blaarslaai, alle kool, seldery en grasuie.


‘n Winterstuin is op sy mooiste in die lente. Plant dus plante wat jy nie met ‘n swaar hart sal uitpluk om voorsiening te maak vir jou somertuin nie. Met die koste van tuinmaak stel ek voor dat fokuspunte in songedeeltes beplant word met onder andere petunias, gesiggies en Namakwalandse daisies.


Koelte

Niks kom by Primulas om die winter “blues” weg te dryf nie. Die voordeel hier is dat hulle hulself sal saai en volgende jaar weer opkom.


Water

Probeer om die ryp af te spuit voor sonsopkoms. Dit verhoed die ergste skade aan die tuin. Moet ook nie die tuin in die namiddag natmaak nie, aangesien enige water na sonsondergang sal vries, veral as ons temperature na benede 1 graad daal.


Onthou om u hele tuin te bemes om seker te maak al die plante is gereed  om die lente in te gaan.


Ten laaste, probeer om nie die blare uit jou beddings te verwyder nie, aangesien dit ook help om jou plante teen ons bitter koue winters te beskerm.


Geniet die winterseisoen en bly organies!