3 000 miljard liter watertekort in SA teen 2030

  • 17 January 2020
  • 562
  • nuus



Die voorspelde tekort van 3 000 miljard liter is drie keer meer as die totale huishoudelike gebruik van Suid-Afrika.

Die 14,5 miljoen huishoudings (volgens die 2011-sensussyfer) in Suid-Afrika gebruik tans meer as 1 250 miljard liter per jaar teen ongeveer 253 liter per dag - wat reeds die globale gemiddeld van 177 liter per persoon per dag oorskry (volgens die DWS). Hiertoe moet watergebruik van die landbou-, nywerheid- en sakegebruiksektore ook nog gevoeg word.

Die hoë watergebruik kan ook deels toegeskryf word aan munisipale nie-inkomstegenererende water, wat tans ’n onaanvaarbare hoë 37% tot 41% beloop. Alhoewel die syfers varieer, is die persentasie gemiddelde fisiese waterverliese in munisipale stelsels na raming ongeveer 25% teenoor ’n wêreldwye beste praktyk van 15%.

Selfs as Suid-Afrika alle bestaande planne van die regering toepas en Suid-Afrikaners minder water gebruik, is die beraming dat die land teen 2030 steeds ’n 17% tekort sal hê. Die “Water Scarcity Clock” (www.worldwater.io) voorspel dat teen 2030, ongeveer 4 miljoen mense in Suid-Afrika aan waterstres onderworpe sal wees, ongeveer 8 miljoen mense sal een of ander vorm van waterskaarste ervaar en ongeveer 22 miljoen mense sal absolute waterskaarste ervaar.

Om die waterbeskikbaarheidsituasie in Suid-Afrika verder te vererger, voorspel klimaatsmodelle dat Suid-Afrika nog minder reën sal kry, ’n hoër frekwensie van ekstreme weersomstandighede sal ervaar, langer en meer verwoestende droogtes gepaardgaande met intense reënval sal ervaar, en ’n toenemende frekwensie van siklone en kitsvloede. Klimaatsmodelle voorspel ook hoër temperature in die toekoms vir die land, wat die watervoorraad verder kan beperk. Reënval in Suid-Afrika sal onvoorspelbaar en veranderlik bly.

Mike Muller, besoekende adjunk-professor aan die Universiteit van die Witwatersrand, voer aan dat dit geensins seker is dat klimaatsverandering die watervoorraad dramaties sal verminder nie. Alhoewel stygende temperature ’n tendens is wat voorspellers met selfvertroue en korrek kan voorspel, is dit nie seker wat daardie temperatuurverhoging gaan veroorsaak nie, veral nie die waterbeskikbaarheidsvoorspelling nie.

Onlangse navorsing wat in Nature (’n internasionale natuurnavorsingsjoernaal) in Augustus 2019 gepubliseer is, het aangedui dat die grondwatervoorrade van Afrika nog nie negatief beïnvloed word nie. By warmer temperature sal meer verdamping wel vanaf die land se oppervlak voorkom, gepaardgaande met meer intense storms. Meer reën sal in ’n korter tyd val en dit herlaai waterbronne in die vorm van stadige en sagte reën. Dit is ook moontlik dat vloei in riviere kan toeneem. Maar, Suid-Afrika gebruik slegs ongeveer 30% van die water in riviere en van ondergrondse bronne.

Die koste gepaardgaande met ’n verhoogde gebruik van rivierwater en ondergrondse water, kan vinnig duurder word, maar klimaatsverandering kan wel help. Op die oomblik vloei slegs 8% van die reënval in die riviere in en is dan wel beskikbaar om in damme gebruik of gestoor te word. As reënval meer intens word, kan die verhouding moontlik groter wees.

VOORUITSIGTE VIR 2020?
Weervoorspellings word weer meer onseker, soos berig deur die Mail and Guardian in November 2019. Inderdaad, aan die einde van September 2019, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens gewaarsku dat sommige internasionale voorspellingsmodelle voorspel dat Suid-Afrika moontlik in ’n (droë) El Niño-reënvalfase kan ingaan: “Teenoorgestelde voorspellings vir die grootste deel van die somerperiode verhoog die onsekerheid vir die komende somerseisoen.”

Die kombinasie van onduidelikhede oor weer- en klimaatvoorspellings en ander watersekuriteitsuitdagings bied ook aan politici ’n maklike geleentheid om klimaatsverandering en onsekerheid die skuld te gee vir mislukkings in hul verantwoordelikheidsgebiede.

Nietemin, as gevolg van ’n stygende vraag na water wat dreig om die beskikbaarheid daarvan te oortref, sal SuidAfrika se watervoorsiening in baie dele van die land onder druk bly. Suid-Afrika se waterbronne word nou gekonfronteer met ’n dringende behoefte aan holistiese geïntegreerde waterbestuurspogings wat ewe veel klem lê op vraagbestuur, asook nuwe en bestaande infrastruktuur, instandhouding en water operasionele bedrywighede. Volgens Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van die Waternavorsingskommissie (WNK), sal Suid-Afrika se toekomstige watersekuriteit afhang van veel hoër vlakke van innovasie en vindingrykheid.

Suid-Afrika se wateruitdagings sal nie opgelos word sonder ’n kombinasie van beleggings in meer waterslim infrastruktuur en toerusting, groen infrastruktuur, waterherwinning, vraagbestuur, biologiese intelligente infrastruktuur en gedragsverandering om die toenemende vraag na dalende beskikbaarheid te verminder nie.

Met ’n semi-ariede klimaat en ’n gemiddelde jaarlikse reënval van ongeveer 465 mm – wat die helfte van die wêreldgemiddeld is – verg volhoubare ontwikkeling en oorlewing in Suid-Afrika, veral in die landbousektor, noodsaaklike waterinnovasie om waterbeskikbaarheid met ’n groeiende vraag te balanseer. Daar is geen enkele voorskrif vir die hantering van waterskaarste nie. Elke landelike en stedelike gebied in Suid-Afrika moet sy eie besondere omstandighede verstaan en volhoubaar aanspreek. Groot onkunde bestaan wel in Suid-Afrika oor die bestuur van water, die beskikbaarstelling daarvan en wat gedoen kan word om betroubare en voldoende voorraad te verseker.

Gedragsverandering gaan hand aan hand met waterinnovasie en moet doeltreffend ontwerp en toegepas word vir plaaslike omstandighede, met plaaslike oplossings om die huidige en groeiende toekomstige openbare nood oor waterbeskikbaarheid in Suid-Afrika aansienlik te verminder.