Afname in aangemelde veediefstalgevalle




Volgens ʼn verklaring wat in hierdie verband uitgereik is, het die aantal aanmeldings nasionaal met 12,78% gedaal. Die grootste daling is in Noordwes aangeteken, naamlik 31,76%, gevolg deur die Vrystaat (23,39%), Limpopo (21,26%) en Mpumalanga (20,95%).

Indien daar na die aantal sake per provinsie gekyk word, was die grootste afname in aangemelde gevalle in die Oos-Kaap met 545 gevalle, gevolg deur die Vrystaat (511), Limpopo (364), Noordwes (345), Mpumalanga (291) en KwaZulu-Natal (212).

Die redes vir die afname is volgens die forum onseker, en dit kan aan aspekte soos Covid-19, sosiale media, WhatsApp-groepe, geslotebaantegnologie, verbeterde misdaadvoorkomingstrategieë en mediablootstelling toegeskryf word. Dit kan ook wees dat daar ʼn konstante afname is in die hoeveelheid veediefstalgevalle wat aangemeld word.

Ander bevindinge

  • ʼn Volgehoue daling is bespeur in die kwartaallikse statistieke vir die aantal vee wat as gesteel aangemeld is sedert vlak 5 van die nasionale inperking tot en met die huidige vlak 1 inperking.

  • ʼn Ooreenstemming tussen die lengte van die dae en nagte, en die aantal veediefstalsake word ook waargeneem. Dit word toegeskryf aan langer nagte in die wintermaande of omdat patrollies van plaaswagte minder plaasvind in die winter. (Die forum meen egter dat hierdie ʼn aanname is omdat geen formele statistiek oor patrollies beskikbaar is nie).

  • Veediefstal bly ʼn groot probleem in die Oos-Kaap. Hoewel daar ʼn afname in die aanmeldings in die provinsie was, is 9,49% meer beeste, 2,03% meer skape en 2,30% meer bokke in die afgelope boekjaar gesteel. Altesaam ses van die top tien polisiekantore in Suid-Afrika waar die meeste veediefstalklagtes aangemeld word, is in die Oos-Kaap geleë.

  • Toenames in veediefstal is ook in die Noord-Kaap bevestig. Ongeveer 58% meer beeste en 7% meer skape is in die afgelope boekjaar hier gesteel.

  • In Mpumalanga is 17,07% meer bokke gesteel.

Brandpunte

Volgens die forum sluit die grootste veediefstal brandpunte, die volgende gebiede in:

  • Oos-Kaap: Qumbu, Sulenkama, Mthatha, Bityi, Mount Frere, Maluti en Tsolo.
  • KwaZulu-Natal: Taylors Halt, Amangwe en Dannhauser.

Ekonomiese impak van veediefstal

Die forum stel die afname in die ekonomiese impak vir veeprodusente op 6% vir die 2020-2021 boekjaar.

In terme van die verliese aan gesteelde diere, word die skade op R1 107 644 600 gereken, terwyl die koste van verlore diere op R844 603 800 gestel word. Die waarde van diere wat teruggevind is nadat dit as gesteel aangemeld is, word op R263 040 800 bereken.

* Die NVVK bedank elke gemeenskap, veediefstalinligtingsentrum, plaaspatrollie en rolspelers in die kriminele regstelsel vir hul onderskeidelike bydraes wat tot die daling in veediefstalgevalle.