Agri SA en affiliasies verwelkom rampverklaring

  • 21 January 2022
  • 1172
  • nuus



Dié rampverklaring is in die Staatskoerant gepubliseer. 

Volgens die verklaring word ʼn versoek gerig aan die onderskeie staatsorgane om ondersteuning aan bestaande strukture verder te versterk om gebeurlikheidsplanne te implementeer en te verseker dat maatreëls ingestel word om die nasionale uitvoerende gesag in staat te stel om die gevolge van die ramp doeltreffend te kan hanteer.

Intussen is die departement van landbou deur die nasionale rampbestuursentrum versoek om so spoedig moontlik met georganiseerde landbou te skakel ten einde ʼn akkurate skadebepaling te doen. Laasgenoemde sal deur provinsiale en munisipale beamptes gedoen word.

Volgens Andrea Campher, risiko-en-rampbestuurder by Agri SA, het dr Jack Armour, operasionele bestuurder van Vrystaat Landbou, dié organisasie se boere gevra om teen 10 Februarie hul skade-opnames aan hom te stuur. Die doelwit is om hierdie opnames teen 15 Februarie by die Vrystaatse landboudepartement in te handig.

Agri Noordwes is ook besig met ʼn skadebepaling en volgens Boeta du Toit, hoofbestuurder, sal hulle opname ook fokus op die provinsie se grond-en teerpaaie wat ernstig beskadig is.

Campher sê die provinsies wat volgens die rampbestuursentrum tot dusver die meeste skade ervaar het, is die Vrystaat, Noordwes, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Gauteng.

Volgens Campher is die kans dat ramphulp aan ʼn boer wat groot skade aan sy of haar oeste aangeteken het baie skraal sal wees, onder meer omdat versekeringsprodukte vir oes-verliese beskikbaar is. Daar is wel ʼn daadwerklike dryf om te verseker dat die fondse wat beskikbaar gestel word aangewend moet word om paaie en infrastruktuur te herstel.