Agri SA vra na groter duidelikheid oor veeveilings




Volgens die interpretasie van die vlak 4-regulasies wat in die Staatskoerant afgekondig is, kan veilings voortgaan met ʼn maksimum van 50 mense wat dit mag bywoon, terwyl streng gesondheidsmaatreëls ten alle tye gevolg moet word.

Dit is veral die verwysing in die regulasies wat daarop dui dat samekomste, soos vergaderings by veilings, nie tot 11 Julie 2021 toegelaat word nie, wat volgens Agri SA onduidelik is. “Beteken dit dat veilings wel kan plaasvind, maar dat daar nie ʼn byeenkoms van mense kan wees nie? Watter veilings is hier ter sprake? Verwys dit na alle veilings, insluitend eiendom en ander bates en ook landbouveilings?” vra Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Landbou as ʼn noodsaaklike diens

Volgens Van der Rheede vereis die feit dat die landbou as ʼn noodsaaklike diens verklaar is, dat veeveilings moet voortgaan.

Vrae wat in hierdie verband onstaan sluit onder meer in, wat gedoen moet word in gevalle waar veeveilings reeds geskeduleer is en hoe prakties haalbaar dit is om die teenwoordigheid van mense by veeveilings te verbied.

Van der Rheede meen dat veeveilings die lewensaar van die lewendehawebedryf is dat die verbod op veilings onprakties is en dreig om kommersiële en opkomende produsente, asook die gemeenskappe wat hulle ondersteun, finansieel op hulle knieë te dwing.

Waar moontlik sal veilings in die toekoms aanlyn plaasvind om aan die deurlopende vraag na vee te voldoen, maar Van der Rheede voeg by dat op afgeleë gebiede dit nie altyd moontlik is om veilings aanlyn te doen nie, en daarom sal kleiner opkomende produsente die gevolge daarvan moet dra.

* Die vlak 4-inperkingsregulasies geld vir 14 dae, waarna besluit sal word of dit verder aangepas moet word.