Beesmis nou ingespan in bierbrouproses

  • 18 March 2022
  • 1026
  • nuus



Landbou.com berig dat SAB ʼn ooreenkoms gesluit het met Bio2Watt, ʼn maatskappy wat hernubare energie op nywerheidskaal verskaf. Volgens hierdie ooreenkoms sal beesmis hoofsaaklik gebruik word vir kragopwekking by die Cape Dairy Biogas-aanleg by Malmesbury in die Wes-Kaap en gevolglik sal dit krag aan dele van die SAB brouery voorsien.

Volgens Kyle Day, SAB se direkteur van verkryging in Afrika, is dit vir SAB belangrik kom saam te werk met wêreldwye pogings om die vrystelling van skadelike koolstofvrystellings, wat veral bydra tot klimaatsverandering, te beperk.

Hoewel die aanleg nog gebou word, gaan dit koeimis en afval van een van die grootste melkplase in Suid-Afrika, Vyvlei by Malmesbury, gebruik. Die plaas het sowat 7 000 melkkoeie. Koeimis gaan gemeng word met ander vloeibare afval wat ook uit die area verkry word om hernubare energie op te wek.

Biogas word vrygestel wanneer organiese materiaal soos mis, munisipale vullis en plantmateriaal afbreek. Dit word in die aanleg omgeskakel in hitte en energie om krag op te wek.

Die ooreenkoms sal SAB in staat stel om 23% van sy bedrywighede met herwinbare krag te bedryf.

Dié plan is in ooreenstemming met die beherende maatskappy, Anheuser-Busch InBEV, se globale doelwitte om 100% gebruik te maak van hernubare energie teen 2025 en sodoende koolstofvrystellings met 25% te verminder.