Brandstofprys druk swaar op landbouwaardeketting

  • 16 April 2021
  • 1699
  • nuus



Dié prysstyging beïnvloed produsente oraloor omdat die planttyd van wintergewasse begin het, terwyl graanprodusente in die somersaaigebiede gereed maak om te oes.

Volgens Paul Makube, ʼn senior landbou-ekonoom by FNB Agribesigheid, oefen die prysstyging druk op die landboukalender uit gedurende ʼn tyd waar die vraag na en verbruik van brandstof op die mediumtermyn toeneem. Hy verduidelik dat produksiekoste waarskynlik regstreeks deur die waardeketting sal toeneem, en daarom ʼn wisselende impak op aanplantings, oeste, verspreiding en verpakking gaan hê.

Graanprodusente en vervoermaatskappye sal volgens Makube ook die impak van die prysstyging voel, aangesien ongeveer 80% van graan padlangs vervoer word. Om hierdie rede sal die vee-en tuinboubedryf ook geraak word ten opsigte van landwye verspreiding en uitvoer. Hy meen voorts dat die prys van olieverwante produkte soos gifstowwe en kunsmis ook na alle waarskynlikheid gaan styg.

Volgens Dr Christie Viljoen, ʼn ekonoom verbonde aan die ouditfirma PriceWaterhouseCoopers (PwC), kan 72c uit die R1-styging toegeskryf word aan die hoër olieprys en ʼn swakker rand. Die res van die verhoging is te wyte aan die styging in die algemene brandstof- en Padongelukfonds (POF)-heffings, van onderskeidelik 16c en 11c per liter). Omdat brandstof sowat 5% van die inflasiemandjie uitmaak, reken dr Viljoen dat enige brandstofprysverhoging Suid-Afrikaners negatief sal beïnvloed.

Hy meen voorts dat die rimpel-effek van die prysverhoging in hoër produkpryse weerspieël gaan word in die komende maande. Dié prysverhogings plaas veral kleinhandelaars onder druk omdat hulle nie die groot prysstygings net so aan sukkelende verbruikers kan weergee nie.

* Die prys van 95 oktaan-petrol in Gauteng het vroeër die maand met R1 tot R17,32 per liter gestyg. Aan die kus is ʼn 99c verhoging aangekondig, wat die prys op R16,61 per liter stel. Op die keper beskou beteken dit dat Suid-Afrikaners nou R3,36 per liter meer betaal vir brandstof, as in April 2019. ʼn Jaar gelede het dit net minder as R700 gekos om ʼn 50 liter-petroltenk te vul, teenoor die huidige R866.