Bruin sprinkane | swerms groot bron van kommer




Volgens die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling het die eerste somerreënval tot die eerste uitbreking van bruin sprinkane vir die seisoen veroorsaak. Swerms is onder meer in die SF Mgcawu- en Pixley ka Seme-distrikte aangemeld, asook in Upington, Pofadder, Marydale, Langklip, Groblershoop, Niekerkshoop, Sutherland en Richmond.

In ʼn verklaring wat deur die departement in die verband uitgereik is, word daar verwag dat moontlike uitbreking van swerms ook in ander gedeeltes van die provinsie sal voorkom vanweë die goeie neerslae wat die afgelope paar weke in die provinsie geval het.

ʼn Span sprinkaanbeheerders is reeds na die gebied gestuur om die verspreiding van die swerms te beheer en alle grondeienaars word versoek om met dié span saam te werk deur hul toegang tot hul eiendom te bied sodat die swerms maklik beheer kan word.

Dr Gerhard Verdoorn het reeds in September voorspel dat sprinkaanswerms sou voorkom sodra die eerste somerreëns geval het. Hy beskryf die jongste uitbreking as kommerwekkend.

“As ʼn oproep oor sprinkane uit die Karoo, Kalahari of Namakwaland kom, is dit heeltemal normaal, maar dat hulle by Kookhuis voorkom, is ʼn groot bron van kommer aangesien dit bitter naby aan die gewasproduksiegebiede is. Dit sê vir my ons sit op ʼn tydbom,” verduidelik Verdoorn.

Volgens Verdoorn is die swerms nou nog klein, maar hul sal in die volgende vier tot vyf weke groter word.

Lede van die publiek en boere word versoek om enige swerms aan Mulalo Matodzi by 083 326 7773, Vuyokazi Mpumlwana by 084 760 8176 of dr Ikalafeng Kgakatsi by 072 198 9882 aan te meld. Swerms kan ook by die kantoor van die departement van landbou op De Aar aangemeld word by 053 631 3122 of 053 631 3261. Alternatiewelik kan dit ook aan dr Gerhard Verdoorn vermeld word by 082 446 8946.