Die impak van laergraadlewerings op plaaslike pryse

  • 17 January 2020
  • 2614
  • nuus



Meulenaars wil weens verkleuring nie die laer graad witmielies maal vir meel nie – hierdie mielies word tradisioneel na die voermark verskuif.

LEWERINGS VIR DIE 2019 SEISOEN
Daar is in die 2019 seisoen meer as 600 000 ton se laer graad witmielies gelewer. Dit is sowat 13% van die totale witmielielewerings, teenoor die normale laergraadlewerings van ongeveer 5%.

Saam met die 600 000 ton wat hierdie seisoen gelewer is, is daar ’n groot hoeveelheid laergraadtonne wat van die vorige seisoen oorgedra is. Volgens die NAMC is die verwagte eindvoorraad 1.14 miljoen ton WM en 558 000 ton GM. Daar word verder verwag dat geelmielie-invoere moet plaasvind om die balansstaat te balanseer.

EFFEK
Met die heersende hoë premies in die gewone mark, vloei die laer grade na die voermark. Die laer grade witmielies word vanaf die geelmielieprys, met ’n verdere diskonto geprys. Die effek hiervan is dat die WM2’s heel wat goedkoper as gewone eerstegraad geelmielies is. Groot hoeveelhede witmielies kan as gevolg hiervan na die voermark gaan, wat die verdere invoere van geelmielies onnodig maak.

Die witmieliebalansstaat is nie tans op risiko nie – daar behoort genoeg voorraad te wees om aan die vraag te voldoen. Indien die laer grade egter in ag geneem word, krimp die beskikbaarheid van hoë kwaliteit witmielies aansienlik. Indien genoeg witmielies gevoer word sodat die eindvoorraad tot onder 1 miljoen ton daal, kan pryse op die beurs reageer en nie net op premies nie.

OPSOMMEND
Op die oog af is daar genoegsame voorraad van beide wit- en geelmielies beskikbaar. Die situasie kan egter vinnig verander, met ’n groot hoeveelheid witmielievoorraad wat ’n lae graad is. Hierdie relatiewe skaarsheid van voorraad behoort ondersteuning aan premies en pryse te bied. Om geleenthede in die mark te benut, skakel gerus u Senwes makelaar of graanbemarker.