Die prys van tamaties styg skerp

  • 04 February 2022
  • 1190
  • nuus



Gegewe die feit dat daar tot in Februarie ʼn uitermatige hoeveelheid reën kan val, meen kenners dat die prys selfs verder kan styg. Hierdie styging is nie goeie nuus vir óf die produsent óf die verbruiker nie.

Alhoewel die produksie en pryse gedurende die winter goed was, het toestande die afgelope ruk handomkeer verander. Volgens Jannie Potgieter, ʼn markagent by Grow BothaRood het die drie hofproduksiestreke, Noordwes-Brits, Limpopo-Mooketsie en die Wes-Kaap, die afgelope ruk, in die kritieke somerproduksietyd, baie reën en min sonskyn gehad wat die produksie, soos vrugvorming, drasties beïnvloed het.

Potgieter verduidelik dat tamaties nie van regstreekse water, soos reën, in sy kritieke groeistadium hou nie, want dit belemmer groei en boonop kry tamaties nie genoeg hitte-eenhede vir fotosintese gedurende langdurige bewolkte weer nie. Nog ʼn nadeel van die nat toestande is dat produsente nie in hul lande kan kom om onkruid te spuit nie.

Voeg hierby die effek van die versengende hittegolf, soos wat verlede week in die Wes-Kaap geheers het, en dit is duidelik dat tamaties geneig is om in ʼn strestydperk in te gaan en hul blommetjies af te gooi, wat tot ʼn onderbreking in produksie sal lei wanneer die bepaalde tamaties veronderstel is om oesgereed te wees.

Abrie Rautenbach, hoof van ABSA-landbou meen die vraag-en-aanbodbeginsel speel ook ʼn sterk rol. Hy verduidelik dat oor die afgelope tyd die nat weer veroorsaak het dat die lewering van tamaties tot 20% gedaal het terwyl die verbruikers se vraag konstant gebly het. Dié tendens het die pryse verder laat styg.

* Die artikel het oorspronklik in Maroela Media verskyn.