Eloise tot nasionale ramp verklaar in SA

  • 19 February 2021
  • 2264
  • nuus



Die storm het die land en omliggende buurstate gedurende die laaste week van Januarie getref en ‘n spoor van vernietiging nagelaat. Eloise het Mosambiek, Zimbabwe, eSwatini en Botswana met mening getref, terwyl swaar reën en sterk winde in die noorde van Suid-Afrika voorgekom het. Minstens tien mense het in Limpopo in vloede gesterf en honderde mense is dakloos gelaat in KwaZulu-Natal.

Spoor van verwoesting

Eloise het op 23 Januarie die kus van Mosambiek bereik met winde van tot 160km per uur. Groot dele van Beira is deur vloedwater oorstroom en sowat 3 000 mense is uit hul huise ontruim.

Op eie bodem is honderde mense haweloos gelaat, en in die munisipale distrik van Jozini in KwaZulu-Natal is 280 huise verwoes. In Mpumalanga en Limpopo is brȗe weggespoel en huise is deur vloedwater verwoes.

Noodtoestand vergemaklik hulpverlening

'n Ramptoestand gee die regering die mag om deur bevel te regeer, reëls te maak soos dit goed dink en dit onmiddellik inwerking te stel, sonder goedkeuring van die parlement of om die normale en uitgerekte konsultasieprosesse met betrekking tot beleidsake te omseil.

Volgens dr Tau kan die regering hierdie bevelsbeheer gebruik om hulp of beskerming aan die publiek te bied, om verligting te verskaf in die vorm van noodleniging, om eiendom te beskerm, ontwrigting te beperk en om die vernietigende gevolge van rampe te bestuur deur toegang tot noodfondse te vergemaklik.

Volgens die nasionale tesourie is die land se rampbefondsingstelsel so ontwerp dat dit voorsiening maak vir die vinnige beskikbaarstelling van fondse na die verklaring van ‘n ramp ten einde toe te sien dat die finansiering vir die herstel van infrastruktuur so spoedig moontlik plaasvind.

‘n Ramptoestand loop na drie maande ten einde, en kan, soos in die geval van die huidige Covid-19-ramptoestand verleng word na gelang van die situasie.

Die artikel het oorspronklik in Business Insider SA verskyn.