Enorme sprinkaanplaag dalk in September verwag

  • 16 April 2021
  • 2271
  • nuus



Gegewe die groot sprinkaanswerms wat op die oomblik oor verskeie dele van die Karoo gesien word, onder meer by Graaff-Reinet, Aberdeen, Beaufort-Wes en Cradock, meen dr Verdoorn dat daar teen September ʼn massiewe uitbreking in hierdie gebiede te wagte kan wees.

“Die sprinkane wat nou daar is, is almal volwasse sprinkane, en as daar sagte nat grond is, sal hulle eiers lê. Omdat die temperatuur nou begin daal, sal die eiers nie nou kan uitbroei nie,” verduidelik Verdoorn en voeg by dat die warmer weer, wat weer vanaf September sal voorkom, wel gunstige toestande hiervoor sal meebring.

Verdoorn is veral bekommerd oor die swerms wat by Graaf-Reinet en Cradock aangemeld is, aangesien gewasse in dié gebiede geplant word en deur sprinkane verwoes kan word. Die hoop is nou dat goeie winterreën in die streek val sodat weiding kan herstel en die verwagte sprinkaanplaag se uitwerking kleiner sal wees. As die sprinkane egter oorbeweeg na die graan-en gewasgebiede se kant, sal dit volgens Verdoorn ʼn ernstige probleem inhou.

 Sy raad aan produsente is om reeds vanaf Augustus op te let na wat in die veld gebeur “Die oomblik wanneer die sprinkane uitkom, moet dit aangemeld word.”

Bekamp sprinkane so

Sprinkaanswerms moet by die departement van landbou se kantoor aangemeld word sodat plaaslike beamptes uitgestuur kan word om die nodige plaagbeheermiddels te spuit. Volgens Verdoorn is daar genoeg spuitbeamptes in die Karoo en Kalahari beskikbaar en hy waarsku die publiek om nie self te probeer ingryp nie, aangesien die spuitmiddels korrek gebruik moet word.

Sprinkane kan ook sonder gif beheer word.

Die produsente wat skaaptroppe, boerbokke of beeste het, moet dat die vee oor die sprinkane hardloop en dit dood trap. ʼn Swaar bakkie-of trekkerband, wat agter ʼn bakkie gesleep word, kan oor die swerm op die grond gesleep word.

Meld sprinkaanswerms aan by die departement van landbou deur 084 760 8176 of 053 631 3621 te skakel.

* Kyk hier na ʼn videogreep van die sprinkane in die Graaff-Reinet distrik: https://bit.ly/3g4kIO0.